Wb Krieket

Verwag die Kragkolf-Wêreldbeker

Die Stryd van die kanonkolwers.

Op die oomblik lyk dit of vanjaar se Wêreldbeker-kriekettoernooi bepaal gaan word deur die span wie se mokermanne die grootste amok kan maak.

Alles dui daarop dat die blaaie in Engeland so mak soos labrador-honde is en tellings tussen 320 en 380 behoort dus die norm te wees. In die eendag­reeks tussen Engeland en Paki­stan, wat vandag klaarmaak, het elke span in al drie wedstryde wat tot dusver gespeel is, tellings van meer as 300 aangeteken. Die Britse eiland is 'n kolfparadys.

David Miller . . . Wêreldbeker-breker?Foto: Gallo Images
David Miller . . . Wêreldbeker-breker?Foto: Gallo Images

Suid-Afrika se strategie is om teenstanders met sy vier voorslagboulers - Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Dale Steyn en Imran Tahir - te verwurg. Die Proteas wil spanne uitboul.

Maar in krieket kry 'n mens 'n snaakse ding, genaamd die loot. En die loot kan die dood vir selfs die beste van voornemens beteken.

Die Proteas se strategie om teenstanders vir klein tellings uit te boul, gaan op sy beste werk wanneer hulle eerste boul. Wanneer Suid-Afrika eerste kolf, gaan dit steeds van kritieke belang wees om 'n groot telling aan te teken, sodat sy sterk boulaanval iets het om na te boul.

En hier is waar David Miller in die gesprek inkom. Miller gaan waarskynlik op nr. 5 instap as 'n mens so luister na Faf du Plessis, die kaptein. Sy taak gaan wees om met warrelwindbeurte die afrondingswerk aan Suid-Afrika se telling te doen.

"Dit is baie belangrik dat al jou ‘kanonkolwers' hul deel doen aan die einde van die beurt," het Du Plessis gister op die OR Tambo-lughawe gesê.

"Ons is geseënd met kolwers soos David, JP Duminy, ekself wanneer ek myself eers ingespeel het en Quinton de Kock aan die begin van die beurt.

"Ons het die X-faktor en eksplosiewe kolwers op ons kolflys.

"Ouens wat 100 van 70 balle kan kry, is wat jou help om groot tellings op te stapel."

Elke span het 'n kanonkolwer nodig wat tussen nr. 5 en nr. 7 instap en die wilgerlat na willekeur swaai as die toporde-kolwers 'n goeie grondslag gelê het.

In die laaste drie jaar was Engeland die suksesvolste eendagspan ter wêreld. 'n Groot rede hiervoor is dat hy kolwers het wat teen treftempos van meer as 100 kolf. Jason Roy en Jonny Bairstow doen dit aan die begin van die beurt, maar dit is Jos Butt­ler wat die verwoester is.

Buttler stap gewoonlik op nr. 5 in. In die laaste 12 maande het hy 670 lopies teen 'n verstommende treftempo van 129.09 aangeteken. Dit verander 'n telling wat neig na 280 na 'n mammoet-teiken van 350.

Thisara Perera van Sri Lanka is ook 'n laerorde-verwoester, maar die verskil is dat hy nooit instap met sy span in 'n gunstige posisie nie.

Die vraag is: Kan Miller Suid-Afrika se Buttler wees?

"David het in die verlede al gewys hy kan dit vir ons doen," sê Du Plessis.

Volgens die Protea-kaptein gaan dit egter nie altyd nodig wees om sulke reuse-tellings op te stapel nie.

"As jy 'n boulaanval het wat spanne vir 280 uitboul, verander daardie prentjie onmiddellik.

"Dit is ons groot wapen. Almal sê die blaaie in Engeland is fantasties en dit is, die tellings in die plaaslike krieket daar bevestig dit.

"Steeds glo ek ons gaan soontoe met 'n baie sterk boulaanval. Ons glo dat die boulers enigiets kan verdedig wat die kolwers op die bord sit."

Ottis Gibson, die Proteas se afrigter, sê hulle beskik oor 'n kolflys wat tellings tussen 320 en 380 kan aanteken.

Hy sê 'n mens moet ook nie te veel in die groot tellings tussen Engeland en Pakistan lees nie.

"Albei spanne speel sonder van hul beste boulers," sê Gibson.

"Baie keer mik jy na 350, maar dan word jy vir 250 uitgeboul.

"Ons sal uiteraard goed moet kolf, maar ons voel ons sal enigiets kan verdedig."

Die realiteit is egter dat dit nie saakmaak hoe goed jou boulaanval is nie: As jou kolwers 'n power teiken opgestel het, gaan hulle sukkel om dit te verdedig.

Telborddruk is 'n werklikheid. 'n Span wat 320 jaag, moet baie meer waagstukke aangaan as 'n span wat 230 jaag.

Hoe skitterend jou boulers ook al mag wees, laasgenoemde telling gaan vir hulle 'n groot uitdaging wees om te verdedig.

En daarom het Suid-Afrika nodig dat Miller by dié Wêreldbekertoernooi wasdom bereik. Die tekens was nog altyd daar dat dié 29-jarige KwaZulu-Nataller 'n kolfbreker kan wees. Hy kon dit net nog nooit op 'n deurlopende grondslag regkry nie.

'n Bestendige, verwoestende Miller is dalk die enigste bestanddeel wat Suid-Afrika makeer om werklik 'n aanspraakmaker op die titel te wees.

Die boulers is daar. Aanvangskolwers van gehalte het Suid-Afrika. 'n Besielende leier is daar ook in hul kleedkamer.

As Miller 'n Buttler of twee kan trek, kan die Proteas net dalk hul WB-voedoe verbreek.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM