Die krieketspan van Australië het gister danksy 'n toorkunstenaar met die bal 'n gemaklike Wêreldbeker-oorwinning met 33 lopies oor Engeland in die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad behaal en daarmee 'n reusetree nader gegee aan 'n plek in die halfeindronde.

Die Aussies is ná hul vyfde sege agtereenvolgens derde op die punteleer met tien punte ná sewe wedstryde, net onder die Proteas, wat met 12 punte ná sewe wedstryde reeds vir die halfeindronde gekwalifiseer het.
Engeland, die verdedigende kampioen, se aanslag in hierdie globale skouspel is nou amptelik iets van die verlede.
Die Australiese span het danksy 'n stewige 71 (83 balle, 7x4) deur Marnus Labuschagne en 'n bruikbare 47 (52 balle, 5x4) deur Cameron Green 'n mededingende 286 aangeteken.
Engeland het geantwoord met 253, danksy Ben Stokes (64, 90 balle, 2x4, 3x6), Dawid Malan (50, 64 balle, 4x4, 1x6) en 'n netjiese 42 deur Moeen Ali.
Die bybreekbouler Adam Zampa, 'n ware toorkunstenaar met die bal, het Engeland se val verhaas, met sy 3-21 in tien beurte.
Zampa het die middelorde van Engeland geskud deur ontslae te raak van die kaptein, Jos Butler, vir 1.
Die keerpunt van die wedstryd het gekom toe Zampa teruggekeer het vir sy finale skof en Ben Stokes en Moeen Ali verwyder het toe hulle met 'n vennootskap van 63 van 62 balle om die vyfde paaltjie gedreig het om die pendulum weg te swaai van die Aussies.
Zampa is met sy 19 paaltjies die suksesvolste bouler in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi. Hy is goed ondersteun deur die charismatiese kaptein, Pat Cummins, wat met sy 2-49 as swaaibouler puik was, en Mitchell Starc.
Engeland was op 19-2 binne vyf beurte met die spreekwoordelike rug teen die muur nadat die links-swaaibouler Starc ontslae geraak het van Jonny Bairstow (0) en Joe Root (13).
• In gister se ander wedstryd was reën Pakistan se groot bondgenoot toe hy Nieu-Seeland met 21 lopies volgens die D/L-metode geklop het.












