Wb Krieket

Gesoek: Ba-woema

Temba Bavuma nadat hy sy paaltjie teen Australië verloor het. Foto: Pankaj Nangia/Gallo Images
Temba Bavuma nadat hy sy paaltjie teen Australië verloor het. Foto: Pankaj Nangia/Gallo Images

Die Proteas het die volste vertroue in hul kaptein, Temba Bavuma, se vermoë om sy kolfpeil weer op dreef te kry in die pylvak van die Wêreldbeker-toernooi.

Trouens, Quinton de Kock sê Bavuma kolf eintlik goed - hy "vind net maniere om homself uit te kry".

"Hy voel steeds goed oor sy eie spel en is vol selfvertroue. Temba glo altyd in homself, wat 'n goeie eienskap is om te hê. Hy is nie ontsenu nie. Dit gebeur met almal van ons dat ons somtyds goed voel, maar dan onsself uit kry. Ek het 'n gevoel in een of twee van die wedstryde wat kom, veral in 'n belangrike wedstryd, gaan hy vir ons die vuur deurstaan. Dit is Temba Bavuma in 'n neutedop," sê De Kock, tans die voorste lopiemaker in die toernooi met 545 lopies.

Die ganse Protea-topsewe handhaaf tans 'n gemiddeld van meer as 40. Behalwe Bavuma. Hy het nog net 111 lopies in vyf kolfbeurte aangeteken, teen 'n gemiddeld van 22.20. Sy beste beurt was een van 35 teen Australië, toe hy 'n vennootskap van meer as 100 lopies met De Kock gedeel het. Hy is ook die enigste Protea-kolwer in die topsewe wat nog nie minstens 'n vyftigtal aangeteken het nie.

Dit is egter waar wat De Kock sê: Bavuma lyk goed voor die penne. Hy teken reg rondom die paaltjies lopies aan, en tref die bal goed as hy snelboulers deur die dekke dryf. Sy dryfhou verby middebaan werk ook goed, terwyl hy selfs teen Nieu-Seeland 'n goeie ses oor die dekke geslaan het.

Hy het tot dusver beurte van 8, 35, 16, 28 en 24 gespeel. Hy maak dus 'n begin, maar verloor dan sy paaltjie - gewoonlik deur 'n veldwerker met 'n hou te vind.

"Jy wil altyd 'n bydrae lewer. Die ander kolwers vaar skitterend. Ek put selfvertroue uit die feit dat ek al 'n paar vennootskappe met Quinton gedeel het. Uiteraard wil ek dan daarop voortbou," sê Bavuma.

Hy was boonop die beste Protea-kolwer sedert die begin van verlede jaar tot net voor die toernooi. In daardie tydperk het hy in 17 wedstryde 868 lopies geslaan, teen 'n gemiddeld van 57.86 en 'n treftempo van 93.03. Hy het vier honderdtalle en twee vyftigtalle in dié tydperk geslaan. Bavuma self, en die span, weet dus wat hy kan vermag as hy weer op koers kom.

• WB-KRIEKETGIDS | Die program, uitslae en puntelys

"Dalk is dit maar een van daardie tydperke vir my waar jy soort van raap en skraap, maar ek bly glo daar gaan 'n geleentheid vir my wees om 'n groot beurt vir die span te speel. Dit is waaraan ek tans dink."

Hy put ook vertroue uit die wyse waarop die span in hom glo, soos De Kock se woorde getuig.

Bavuma sal vandag onder ekstra druk wees weens die ongelooflike aansporing wat die tuisspan vanaf 'n stampvol Eden Gardens, met sitplek vir 68 000 mense, gaan kry.

Daar was gister reeds hordes mense buite Eden Gardens se hekke. "India, India, India!" het hulle gedreunsing - só hard dat 'n mens dit selfs in die stadion se mediabank kon hoor. Die ondersteuners het selfs mal gegaan toe die Proteas se bus die stadion verlaat het.

Die kaartjies is uitverkoop. Trouens, die polisie het reeds mense in hegtenis geneem wat kaartjies op die swartmark probeer verkwansel het.

Tinus van Staden in Kolkata

CTA