Wb Krieket

Indië pak Engelse in oranje

Indië sal Sondag in oranje-en-blou kleredrag geklee wees wanneer hy Engeland in die Wêreldbekerkriekettoernooi in

Birmingham pak.

Dit is om die twee spanne van mekaar te onderskei, omdat die Engelse, soos die Indiërs, gewoonlik in blou speel.

Virat Kohli, kaptein van Indië, is heel ingenome met die kleur van die hemde.

"Ek hou nogal daarvan, en dink dit is 'n agt," het hy gesê op die vraag van verslaggewers watter punt uit tien hy die trui gee.

"Eerlikwaar, ek sê dit nie maar net nie. Ek hou regtig daarvan. Die kontras is baie mooi. Vir een wedstryd is dit reg.

"Ek dink nie ons sal permanent in hierdie rigting gaan nie, omdat blou ons gewone kleur is en ons trots is om dit te dra. Vir 'n verandering en vir die geleentheid is dit baie mooi," sê Kohli.

Nie almal is egter in hul noppies met die kleure nie en politieke teenstanders van die eerste minister, Narendra Modi, beskuldig hom daarvan dat hy sy Hindoe Nasionalistiese Party se kleure die binnebaan by die nasionale krieketspan gegee het.

Dit sal nie die eerste keer wees dat spanne met kleredrag in 'n ander kleur as gewoonlik in wedstryde in vanjaar se toernooi speel nie. - Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM