Krieket se vuilbekke en heethoofde beter hulle gedra, want die Internasionale Krieketraad (IKR) gaan geen persoonlike beledigings teenoor teenstanders duld in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Engeland nie.
Dave Richardson, die IKR se uitvoerende hoof, het Maandag by die Oval in Londen gesê elke span is die leviete voorgelees wat die reëls van mondelingse oorlogvoering betref.
"Dit is altyd moeilik om sledging te definieer," het Richardson erken.
"Maar een van die punte wat ons op elke spanvergadering benadruk, is dat hulle seker moet maak hulle handhaaf goeie gedrag.
"Geen kwetsende persoonlike opmerkings sal geduld word nie. Ek dink dit het oor die laaste 12 maande baie verbeter.
"Die spanne gedra hulle in die algemeen goed en hopelik sal dit in die Wêreldbeker-toernooi voortduur."
Die IKR het juis sy gedragskode ná verlede jaar se toetsreeks tussen die Proteas en Australië hersien.
Dié reeks het verskeie onsmaaklike voorvalle gehad - onder meer die onderonsie tussen David Warner en Quinton de Kock op die trappe na die kleedkamers in Durban en die balpeutery-voorval in Kaapstad.
Warner en Steve Smith het maar onlangs van hul jaar lange skorsings vir laasgenoemde voorval teruggekeer. Dit het die IKR ook genoop om sy gedragskode te hersien.
"Genoeg is genoeg," het die IKR destyds in 'n verklaring gesê.
Richardson sê die spelers se gedrag het sedertdien aansienlik verbeter.
"Enige tipe rassistiese of homofobiese aanmerkings sal nie geduld word nie. Die gedragskode sal van toepassing wees," sê hy.
"Ons het nie enige spesiale reëls vir die Wêreldbeker-toernooi ingestel nie, maar 'n jaar of wat gelede het ons die gedragskode aangepas en ons het nou baie strenger reëls wat sledging en taalgebruik reguleer.
"Ons sal dit op presies dieselfde manier in die Wêreldbeker toepas."
Die toernooi begin Donderdag met 'n kragmeting tussen Engeland en Suid-Afrika op die Oval.




















