Wb Krieket

Lungi Ngidi – SA se eie Michael Holding

Die goue ketting wat om die vriendelike reus se nek hang, laat hom kompleet soos een van die gevreesde Windie-snelboulers van die 1970's en 1980's lyk.

Lungi Ngidi staan die media te woord. Foto: Gallo Images
Lungi Ngidi staan die media te woord. Foto: Gallo Images

Is dit 'n slim streek om sy innerlike Michael Holding of Andy Roberts na vore te bring? Lungi Ngidi lag verleë.

"Nee, dit was 'n geskenk," sê hy. Ook nie van Ottis Gibson, die Protea-afrigter en voormalige Wes-Indiese snelbouler nie, want "hy het sy eie een".

"Ek probeer seker maak dat dit altyd by my is. JP Duminy het my al moeilikheid gegee daaroor, maar dis oukei, ek gee nie om nie," sê Ngidi laggend.

Net soos wat die Windie-spanne van weleer gedoen het, wil die Proteas vanjaar in die Wêreldbeker-toernooi in Engeland hul teenstanders met hul boulaanval wegblaas.

Die Wes-Indiese spanne wat die eerste twee Wêreldbeker-toernooie in 1975 en 1979 in Engeland gewen het, kon op snelboul-konings soos Holding, Roberts, Colin Croft en Joel Gardner staatmaak. Die Protea-span van 2019 beskik oor Ngidi, Kagiso Rabada en Dale Steyn.

Die vraag is of dié snellers die mas op mak Engelse blaaie sal kan opkom.

Michael Holding in sy speeldae met die kenmerkende goue ketting om die nek. Foto: Getty Images
Michael Holding in sy speeldae met die kenmerkende goue ketting om die nek. Foto: Getty Images

"Toeskouers hou daarvan om baie lopies te sien. As internasionale boulers moet ons egter nie bang wees daarvoor nie. Ek is regtig nie bekommerd nie," sê Ngidi.

"Op enige gegewe dag kan jou teenstander vinnig drie paaltjies plat wees. Dan lyk die blad skielik nie meer so maklik om op te kolf nie...

"Maar as dit goeie kolfblaaie is, moet ons kolwers munt slaan daaruit en óns die teiken verdedig. Dit is so eenvoudig soos dit."

Hy sê die Protea-boulaanval is boonop aanpasbaar.

"Ons het verskillende tipes boulers. Ons het 'n draaier soos Imran Tahir, snellers soos Rabada en Steyn - ouens wat al die voorste bouler op ranglyste was.

"Ons boulaanval sal regkom in Engeland."

Die toestande gaan beïnvloed hoe hy gaan boul, "maar niemand kan 'n goeie streepbal vir 'n ses slaan nie".

"Jy moet die vermoë hê om al jou vaardighede te kan uitstal. As dit moet, boul dan 'n streepbal.

Die voormalige Windie-snelbouler Joel Gardner stuur in die eindstryd in die Wêreldbeker-toernooi van 1979 een van sy kartetse af. Foto: Getty Images
Die voormalige Windie-snelbouler Joel Gardner stuur in die eindstryd in die Wêreldbeker-toernooi van 1979 een van sy kartetse af. Foto: Getty Images

"Jy moet goeie stadige balle ook kan boul en jou vaart kan afwissel sodat jy die kolwer aan die raai hou. Mense moet onthou dat internasionale kolwers nie bang is vir spoed nie.

"Dit maak hul tyd net minder om goeie besluite te kan neem."

Volgens hom is elke Protea-bouler 'n paaltjievraat in eie reg, wat in enige stadium van 'n wedstryd kan boul.

"Ons wil spanne vir klein tellings uitboul. As ons dít doen, gee ons onsself die beste kans om te wen."

En dít is wat die Proteas wil doen.

"Ek fokus alleenlik daarop om so goed as moontlik te vertoon om sodoende vir die span die beste moontlike kans te gee om die toernooi te wen."

In die eindstryd van 1975 op Lord's het Gardner se oes van 5/38, Croft se 3/42 en Holding se 2/16 die uitklophou teen Engeland geplant. Nou, 44 jaar later, kan 'n jong boorling van Durban en sy snelkollegas met 'n soortgelyke vertoning ook 'n stukkie goud vir die Protea-kamp verseker.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM