Die Pakistanse krieketbase het huis skoongemaak ná die span se teleurstellende vertonings by die Wêreldbeker-toernooi in Indië.
Die Suid-Afrikaner Mickey Arthur word deur Mohammad Hafeez vervang as spandirekteur, die kaptein, Babar Azam, het bedank en word deur Shan Mazood (toetsspan) vervang, terwyl Shaheen Shah Afridi die leisels van die T20-span neem. 'n Nuwe eendagkaptein moet nog aangewys word.
Die oudsnelbouler Wahab Riaz, wat in Augustus nog gespeel het, is die nuwe sameroeper van die keurders in die plek van Inzamam-ul-Haq.
Hafeez sal benewens sy posisie as nuwe spandirekteur ook die hoofafrigter wees tydens die komende drie toetse teen Australië.
Arthur het Pakistan in 2019 afgerig, maar is toe ook gepos. - cricinfo












