Australië het Donderdag 'n duidelike boodskap aan die res van die spanne by die Wêreldbeker-toernooi gestuur: Moenie van ons vergeet nie.
Die Aussies se kolwers en boulers het teruggeveg om van moeilike posisies te herstel om die wedstryd teen die Wes-Indiese Eilande in Nottingham te wen.
Australië het die wedstryd met 15 lopies gewen en is nou onoorwonne ná sy twee wedstryde.
Die Aussies het eerste gekolf en was in die moeilikheid op 38/4 en op 147/6 in die 31ste boulbeurt.
Dit het nie gelyk of hulle by 200 sou uitkom nie.
Nathan Coulter-Nile (92, 60 b, 8x4;4x6) het hom egter toe by Steve Smith (73, 103 b, 7x4) aangesluit het. Hulle het die beurt weer op koers gekry en 104 lopies om die sewende paaltjie gevoeg.
Coulter-Nile het tot die voorlaaste boulbeurt ingebly en seker gemaak dat die Aussies met 'n baie mededingende totaal van 288 eindig.
Carlos Brathwaite (3/67) het die beste met die bal vir die
Windies gevaar.
Die Windies het op hul beurt bestendig gekolf en was goed op koers om die wedstryd te wen op 252/6, met Jason Holder (51) en Brathwaite (16) voor die penne.
Die Windies het 37 van 29 balle benodig. Die eilandmanne het toe albei dié kolwers binne die bestek van drie balle verloor met Mitchell Starc (5/46) wat albei uitgehaal het.
Dit was die doodskoot en het die goeie kolfwerk van Shai Hope (68) en Nicholas Pooren (40) ongedaan gemaak.
Die Windies het op 273/9 geëindig.
Ofskoon Holder se span verloor het, het hy gewys dat die Proteas hulle maar kan vet smeer vir Maandag se wedstryd in Southampton.
Die Windies het nou een wedstryd gewen en een verloor in die toernooi en gaan beslis nie 'n maklike teenstander wees nie.
Australië het egter gewys dat hy 'n groot gevaar vorentoe gaan wees.
Dit is nie om dowe neute dat die span vier uit die laaste vyf WB-toernooie gewen het nie.
Die Aussies se volgende kragmeting is 'n watertandstryd Sondag met Indië op die Oval in Londen.




















