Kritici mor dat Marco Jansen nie 'n geskikte nr. 7-kolwer in die Proteas se eendagspan is nie en eerder op nr. 8 moet instap. Sy pa, Koos Jansen, glo egter sewe is die "volmaakte posisie" vir Marco, en dat sy seun binnekort 'n eendaghonderdtal gaan slaan as hy net lank genoeg kolfkans kry.
Die kolfwerk van Jansen was 'n openbaring in die eendagreeks teen Australië, waarin die Proteas met 3-2 baas was.

Die hemelbesem het 134 lopies behaal teen 'n gemiddelde van 33.50. In die derde wedstryd in Potchefstroom het hy 32 lopies gemoker van net 16 aflewerings. In die beslissende wedstryd op die Wanderers het Jansen met 47 van 23 balle, waaronder drie sesse, wéér baljaar. Hy het dit opgevolg met 5/39 en daarmee die Proteas se sege verseker.
"Daardie kolfwerk verbaas my nie. Marco het van gr. 1 tot matriek die kolfbeurt begin en het 'n paar honderdtalle geslaan, waaronder 'n honderdtal in 'n Coke-week vir die provinsiale span. Hy het nog altyd 'n goeie oog gehad. Hy het 'n groot verskeidenheid van houe. Marco het selfs op skool omgekeerde veeghoue geoefen, maar ek het daaroor gekla en gesê dis 'n te riskante hou," sê Koos. Marco en sy broer Duan was in Potchefstroom Gimnasium op skool, en het Noordwes provinsiaal verteenwoordig.
"In die laaste tyd het Marco die nasionale boulers in die nette gevra om baie opslagballe na hom af te stuur. Dit was nadat hy met wipballe getref is deur Jasprit Bumrah en Mitchell Starc. Die trekhou is nou een wat hy met gemak speel."
Koos sê Neil McKenzie, die oud-Protea-aanvangskolwer en nou gevierde afrigter, het 'n groot impak op Marco se kolfwerk gehad.
"Hy het baie respek vir Neil se bydrae tot sy kolfwerk."
Marco het nie veel inspanning nodig om sesse te slaan nie, en boulers sukkel om hom aan bande te lê omdat hy sterk is haaks van die paaltjie en reguit aan die weg- en bykant.
Jansen is 'n hotklou-swaaibouler wat in sy eerste 11 toetse 44 paaltjies vir die Proteas geneem het en in 14 eendagwedstryde 18 keer toegeslaan het. Vanjaar het hy as kolwer al hoe meer op die voorgrond getree. Hy het in die SA20 177 lopies geslaan teen 'n gemiddelde van 44.25 vir die Sunrisers Eastern Cape, waaronder 67 van 28 balle teen die MI Cape Town.
In die reekssege teen Engeland in Januarie vanjaar het hy (as nr. 7-kolwer) en David Miller gesorg vir 'n onoorwonne vennootskap van 65 om die sesde paaltjie om die Proteas na glorie te lei in die tweede wedstryd in Bloemfontein. En in die oorwinning oor die Wes-Indiese Eilande was dit sy en Heinrich Klaasen se vennootskap van 103 om die sesde paaltjie wat die Proteas oor die wenstreep gekry het.
"Marco het nie veel inspanning nodig om sesse te slaan nie, en boulers sukkel om hom aan bande te lê omdat hy sterk is haaks van die paaltjie en reguit aan die weg- en bykant," sê Koos.
Hy het egter nie sy seun se vertonings in die pas afgelope eendagreeks met blote optimisme begroet nie.
"Ek het aan hom 'n boodskap gestuur oor sy boulwerk in die reeks. ‘Jy maak my senuwees gedaan,' het ek vir hom gesê. ‘Jy is soos 'n Smartie-boks, te veel verskeidenheid. Dan wyd buite die wegpen, dan buite die bypen.' Marco het egter gesê daar was 'n spesifieke wedstrydplan en sy eerste opdrag was om paaltjies te kry, en dis iets wat hy danksy wip en swaai reggekry het."
Koos glo sy seun boul teen sowat 137 km/h omdat hy na sy lyf luister.
"Hy is nie baie gespierd nie. Ja, hy kan 145 km/h haal en het dit al voorheen gedoen, maar hy moet sy liggaam bestuur. As hy elke bal teen 145 km/h boul, kan hy beserings opdoen. Maar as die oomblik daar is en die adrenalien óók, soos wanneer hy na Bumrah boul, kan hy selfs vinniger as 145 km/h boul."
McKenzie het by navraag gesê Jansen het baie kolfpotensiaal en is 'n gretige leerling.

"Dit was maklik om met Marco te werk. Hy is iemand wat in multi-sportkodes uitgeblink het, waaronder krieket, atletiek en rugby. Sulke spelers snap konsepte vinnig. Hy het voorheen, wanneer die bouler in sy afleweringsaksie was, te ver vorentoe gestrek. Sy voorste voet was ook nog aan die beweeg wanneer die bal afgelewer word. Ek het hom gekry om in sy beste moontlike posisie te wees die oomblik wanneer die bal geboul word. Hy moes ook nie in 'n te gebukkende posisie wees nie, maar ook nie heeltemal uitgestrek in sy volle lengte nie. Nadat ons sy ideale posisie bepaal het wanneer die bal afgelewer is, het hy sy gewig baie beter vorentoe of agtertoe verplaas," sê McKenzie.
Rob Walter, die Protea-witbalafrigter, is dit eens oor Jansen se potensiaal.
"Daar is nog so baie oor in sy tenk. Vir my is dit genotvol dat hy (op die Wanderers) met kolf en bal presteer het, maar ek begryp ook dat hy nog nie naastenby sy plafon bereik het nie," sê Walter.
Eric Simons, die Protea-witbalspan se boulafrigter, stem saam met Walter dat Jansen nog nie sy plafon bereik het nie.
"Die feit dat hy spoed, wip en swaai genereer, is 'n massiewe bonus. Maar hy kan nog meer akkuraat wees en meer konstant 'n lyn-en-lengte tref."
Brett Schultz, op sy dag ook soos Jansen 'n linkshandige swaaibouler van Suid-Afrika, stel Jansen gelyk aan 'n legende van die spel. "Ek hou Marco dop, want hy is spesiaal en hy kan 'n Andrew Flintoff-soort veelsydige speler vir die Proteas word.
"Ek sou net wou sien dat hy in sy afleweringsaksie meer eksplosief raak. Hy lyk 'n klein bietjie lui in sy aanloop, en ek meen hy kan nog 'n verdere tree of twee byvoeg by sy huidige spoed as daar 'n groter ‘ontploffing' gebeur met die aflewering van die bal," sê Schultz.




















