Wb Krieket

‘Ons is ’n nuwe Protea-span’

Die Proteas is bewus van hul Achilleshiel, dat hulle tentatief en teen 'n slakkepas in vorige toernooie weggespring en die prys daarvoor betaal het. Maar Temba Bavuma glo die Proteas sal na aan hul beste wees in die openingswedstryd vanjaar.

So het die Protea-kaptein gister op die O.R. Tambo-lughawe gesê met die span se vertrek na Indië, waar die Wêreldbeker-toernooi in Oktober en November plaasvind. Hulle was voorheen vier keer 'n semifinalis, maar kon in agt probeerslae nog nooit die titel wen nie.

Temba Bavuma Foto: Gallo Images
Temba Bavuma Foto: Gallo Images

"Ons is bewus daarvan (dat ons voorheen stadig weggespring het)," sê Bavuma.

"Ons is al gekritiseer dat ons nie vinnig uit die blokke is in reekse nie. Die vertroue en momentum (wat die span geput het uit die sege teen Australië in die eendagreeks) sal ons in 'n goeie posisie plaas en ons sal na aan ons beste wees wanneer die toernooi begin. Ons wil wenkrieket speel aan die begin, maar nie noodwendig dan ons hoogste peil bereik nie. Ons wil ons beste krieket in die uitklopfase speel."

Die Proteas het in die vorige Wêreldbeker-toernooi oor 50 beurte in 2019 in hul eerste drie wedstryde teen Engeland, Bangladesj en Indië vasgeval en in twee van hul volgende drie kragmetings ook streepsuiker gekry.

Bavuma het benadruk dat daar 'n nuwe gees en DNS by die Proteas is ná die demoraliserende nederlaag met 14 lopies teen Nederland in die T20-Wêreldbeker-toernooi in November verlede jaar.

"Ek het daardie teleurstelling, die emosie, as 'n motivering gebruik om my aan te por en om iets nuuts vir myself en die span te skep. As ek kyk na die span vanjaar, het ek mense gesien wat dapper en vreesloos was, wat positief was en wat geleenthede aangegryp het om die wedstryd in ons rigting te swaai. Ons het met vertonings vorendag gekom wat ons sterk vertroue in onsself en in mekaar gegee het vir die komende weke. Ons het 'n buite-seisoen gehad van vier maande en die Australiese span het ons in alle opsigte getoets. Die reeksoorwinning het aan die span geloof gegee en daar is 'n stille vertroue in onsself."

Dis belangrik om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie en om in die oomblik te bly.

Volgens Bavuma het hy by Quinton de Kock, wat uit eendagkrieket gaan tree ná die toernooi, 'n nuwe ywer en vasberadenheid bespeur om homself te bewys.

"Daar is ook 'n motivering om op behoorlike wyse van hom afskeid te neem by die Wêreldbeker-toernooi en om aan hom 'n sprokie-afskeid te gee."

Die verlies van Anrich Nortjé is 'n groot terugslag, het die kaptein bygevoeg.

"Ons kyk na Gerald Coetzee. Hy het die spoedfaktor. As ons wel dié roete kies (om sterk te leun op die snelboulers), glo ons Gerald kan daardie rol vertolk. Hy het nie dieselfde ervaring as Anrich nie, maar hy het in die reeks teen Australië goed geboul en volgens die rol wat ons wou gehad het hy moet vir ons vervul."

Gevra wie hy as die gunsteling beskou om die Wêreldbeker te wen, het Bavuma Engeland en Indië uitgesonder.

"Die gasheerland, Indië, ken sy eie toestande goed en weet wat om te verwag, so jy kan hulle nie ignoreer vir die Wêreldbeker-titel nie. En Engeland is die heersende kampioen. Maar as hulle goed speel, het al die spanne 'n stewige kans by die Wêreldbeker-toernooi."

Bavuma sê daar is talle spelers, en ook lede van die afrigtingspan, wat ervaring het van die Indiese toestande en die Proteas wil voordeel daaruit trek.

"Dis belangrik om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie en om in die oomblik te bly."

Die Proteas speel op 29 September en 2 Oktober opwarmwedstryde teen Afganistan en Nieu-Seeland, waarna hul veldtog op 7 Oktober teen Sri Lanka in Delhi begin.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM