Wb Krieket

Protea-held Phehlukwayo plaas span 1ste

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Selfs ná sy heldedade teen Afganistan, sal Andile Phehlukwayo waarskynlik sy plek in die Protea-elftal vir Donderdag se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Australië in Kolkata aan Marco Jansen afstaan.

Maar moenie dink Phehlukwayo sal dikbek daaroor rondloop nie.

Andile Phehlukwayo (middel) het in sy eerste en waarskynlik enigste wedstryd in vanjaar se WB-toernooi teen Afganistan uitgeblink. Foto: Getty Images
Andile Phehlukwayo (middel) het in sy eerste en waarskynlik enigste wedstryd in vanjaar se WB-toernooi teen Afganistan uitgeblink. Foto: Getty Images

Trouens, die veelsydige speler sê dit was glad nie vir hom moeilik om tot voor die wedstryd teen Afganistan koeldrankies aan te dra nie.

"Die spanomgewing is baie verwelkomend en een met baie begrip. Ek het al heelparty (internasionale) wedstryde gespeel en verstaan my rol en wat ek moet doen om die elftal te haal. Ek het 'n punt daarvan gemaak om nie neerslagtig te raak nie. Dit is 'n leerkurwe en dit gaan daaroor om terug te slaan," het Phehlukwayo gesê nadat hy die Proteas met 'n beurt van 39* (37 balle) oor die wenstreep help kry het.

• WB-KRIEKETGIDS | Die program, uitslae en puntelys

Hy het ook die paaltjie van die gevaarlike Rashid Khan platgetrek en met syfers van 1/36 in sewe boulbeurte in sy enigste wedstryd in die toernooi geëindig.

"Ek het baie hard in die nette gewerk. Omdat ons 'n sterk groep het, moet jy jou kans aangryp as jy dit wel kry. Dit is goed om te sien elke speler wat wel iewers 'n kans gekry het, het goeie vertonings gelewer."

Phehlukwayo is een van die spelers wat die meeste by opsionele oefeninge opdaag. Sy werketiek is al in die verlede gekritiseer, maar die 27-jarige veelsydige speler blyk nou ten volle daarop gefokus te wees om weer 'n gereelde lid van die Protea-elftal te word. Hy het immers 'n paar wekroepe gekry die afgelope jaar.

Dit was 'n interessante jaar. Dit is deel van die lewe, hierdie dinge gebeur.

Eers is hy aanvanklik nie deur enige span vir die SA20-liga gekoop nie, voordat hy later deur die Paarl Royals opgeroep is ná beserings. Hy is boonop sy nasionale kontrak kwyt en het slegs die Wêreldbeker-groep gehaal as plaasvervanger vir die beseerde Sisanda Magala.

"Dit was 'n interessante jaar. Dit is deel van die lewe, hierdie dinge gebeur. Dan moet jy terug tekenbord toe en verstaan dat jy 'n bietjie harder moet werk, die klein jakkalsies in jou spel regmaak - hetsy om fikser te word, jou vaardighede te verbeter, jou besluitneming op te skerp, of beter houekeuses uit te oefen.

"Dalk moet jy net 'n paar boulbeurte meer afstuur. Dit is die klein dingetjies wat tel. As jy dít goed doen, het jy 'n goeie kans om goed te vertoon."

Marco Jansen het in die toernooi in Indië as een van die Proteas se blinkste nuwe sterre na vore getree. Foto: Getty Images
Marco Jansen het in die toernooi in Indië as een van die Proteas se blinkste nuwe sterre na vore getree. Foto: Getty Images

Phehlukwayo het sy buiging reeds in 2016 gemaak en was lank 'n integrale deel van die Protea-eendagspan. Hy het reeds 90 paaltjies in 77 eendagwedstryde platgetrek en 820 lopies teen 'n gemiddeld van 25.62 aangeteken. In die WB-toernooi van 2019 het hy in elkeen van die Proteas se wedstryde gespeel.

Vanjaar was sy rol ietwat anders.

Hy sê hy elke wedstryd waarin hy nie gespeel het nie, fyn dopgehou om te sien wat hy daaruit kan leer. Hy gee ook aandag in die kolfvergaderings en weet dus presies wat van hom verwag word as hy wel speel.

"Om konstant te speel, help jou om te ontwikkel. Om in en uit die nasionale groep te wees, beteken ek het nie juis veel plaaslike krieket gespeel nie. Tog baat dit jou as 'n speler om ervaring in internasionale krieket op te doen."

Pat Cummins (middel) en sy Aussies wag in die halfeindronde op die Proteas. Foto: Getty Images
Pat Cummins (middel) en sy Aussies wag in die halfeindronde op die Proteas. Foto: Getty Images

Rassie van der Dussen, saam met wie hy die Proteas oor die wenstreep gekry het teen Afganistan, praat met groot lof van Phehlukwayo.

"Andile het briljant gespeel. Dit was nog die ganse veldtog deur 'n groeppoging, nie net 'n spanpoging nie, maar almal het bygedra, die ondersteuningspersoneel inkluis. Ek is baie bly Andile het 'n kans gekry om almal te herinner wat hy kan doen.

"Hy is een van daardie spelers wat altyd 'n bydrae lewer. Hy is baie keer nie die held nie, maar dra by met 'n paaltjie hier en daar, hy is goed in die veld en met die kolf. Hy het al 'n paar sulke beurte gespeel," sê Van der Dussen.

• Op 'n ligter noot was die joernaliste op toer ook bly dat Phehlukwayo speelkans kry, want dit is altyd vermaaklik om te hoor hoe sy van deur die tellinghouers in die persbank uitgespreek word. Ons het al "Andiel Fellacow" gehoor en Vrydag was dit "Pelekwa".

• Tinus van Staden doen uit Indië vir Netwerk24 verslag oor die Proteas se Wêreldbeker-veldtog.

Tinus van Staden in Kolkata

CTA