Die Proteas ervaar vanjaar druk van 'n unieke aard in hul Wêreldbeker-veldtog in Indië.
Die nasionale vrouekrieketspan het die eindstryd van die T20-Wêreldbeker-toernooi op tuisbodem gehaal, die Springbokke het die Wêreldbeker-eindstryd gehaal en Banyana Banyana het vir die eerste keer tot dusver verby die groepfase van 'n Wêreldbeker-sokkertoernooi vir vroue gevorder. Temba Bavuma-hulle wil dus die goue sportjaar vir Suid-Afrika voortsit.
"Die span wie se mees onlangse vertonings veral inspirerend is, is die Springbokke," het Bavuma Vrydag in Chennai gesê ná sy span se naelbyt-oorwinning van een paaltjie oor Pakistan. "Hoe hulle die kwarteindstryd gewen het, hoe hulle die halfeindstryd gewen het waar hulle van nêrens af gekom het om dit deur te trek . . . dit dien as motivering vir ons om te sien hoe die ouens eenvoudig nooit tou opgooi nie. Daar was 'n sterk sin van desperaatheid om die sege te kry. Dit is iets wat ons aan boord kan neem en deel van ons DNS kan maak."
Bavuma was vol lof vir die Protea-vroue, wat vir die eerste keer tot 'n eindstryd deurgedring het. "Al die momentum in sport het begin vanjaar met die vrouespan begin, toe hulle die eindstryd gehaal het. Daar was dus druk op ons as die Proteas om daardie momentum voort te sit. Ek reken ons vaar goed sover. Ons neem beslis inspirasie en motivering uit al die vertonings van die ander nasionale spanne."
Die Proteas is tans boaan die puntelys by die Wêreldbeker-toernooi, ná vyf seges in ses wedstryde en staan met een voet in die halfeindronde. Hul volgende kragmeting is Woensdag teen Nieu-Seeland. Daarna wag Indië, voordat hulle die groepfase teen Afganistan afsluit.













