Met sy kenmerkende gewrig-sweepslae het Hashim Amla die naweek alle twyfel oor sy plek in die Protea-span stukkend geslaan.
Vrydagoggend sou daar nog Protea-ondersteuners wees wat gewonder het hoe hy enigsins by die Wêreldbeker (WB)-groep ingesluit is.
Maandagoggend kon hy opstaan met die wete dat hy nou die groot gunsteling is om die kolfbeurt Donderdag in die WB-openingswedstryd teen Engeland saam met Quinton de Kock te begin.
Die 65 wat hy Vrydag teen Sri Lanka in Cardiff geslaan het en die 51* wat hy Sondag in die uitgereënde stryd teen die Windies in Bristol opgestapel het, was waarskynlik die belangrikste vyftigtalle wat die 34-jarige kryger nog in opwarmwedstryde aangeteken het.
Sy plek in die WB-groep was weens 'n lopiedroogte in die gedrang. Hy was boonop in Maart op menslikheidsverlof om sy siek pa by te staan.
In sy afwesigheid het Aiden Markram as 'n goeie kandidaat na vore getree om Amla se plek as aanvangskolwer oor te neem.
"Ek weet daar was bespiegelinge, maar daardie tyd was daar belangriker sake wat my aandag geverg het," het Amla ná die wedstryd teen die Windies gesê.
"Ek is net bly om terug op die veld te wees en 'n paar lopies te kon slaan. Dit hang nie van my af of ek die elftal gaan haal nie. Ek doen net wat ek kan doen en wat ook al daarna gebeur, moet net die beste vir die span wees."
Dit lyk nou of Markram sake Donderdag op die Oval vanuit die paviljoen sal dophou.
Amla het gesukkel in die plaaslike T20-reeks in Suid-Afrika. Hy het hom aan dié reeks onttrek om tyd in die nette saam met Dale Benkenstein, Suid-Afrika se kolfafrigter, deur te bring.
"Om lopies aan te teken, is altyd belangrik, maar T20-krieket verskil baie van eendagkrieket," sê Amla.
"Ek is net bly om terug op die veld te wees en 'n paar lopies te kon slaan."
"Gelukkig het ek so twee weke voor die groep byeengekom het, tyd saam met Benkie in die nette deurgebring en gekolf soos ek in 'n wedstryd met 50 beurte sou kolf.
"Daarna was dit belangrik om tyd in die middel deur te bring en gelukkig het ek."
Faf du Plessis, die Protea-kaptein, het gesê hulle sal spelers volgens spelpeil kies. Dít het veral betrekking op die aanvangskolwer-posisie, aangesien Amla en Markram in mekaar se nekke blaas om as De Kock se vennoot uit te stap.
Markram kon Vrydag slegs 21 lopies aanteken.
Amla het ook die sluier effe gelig oor wat dit van spelers verg wat die Moslemgeloof beoefen om hul nering tydens die heilige maand van Ramadaan uit te oefen.
Amla, Tabraiz Shamsi en Imran Tahir bevind hulself almal in die middel van Ramadaan, wat op 5 Mei begin het en 30 dae lank duur. Hulle mag dus geen vloeistof of kos tussen sonop en sononder inneem nie.
'n Uitmergelende taak in die lang Engelse somersdae, maar volgens Amla het dit 'n baie positiewe uitwerking op hom.
"Dit help met my kondisionering. Ek sien altyd uit daarna om te vas, dit is die beste maand van die jaar vir my," sê hy.
"As ons krieket speel in daardie tyd, voel jy wel honger en dors, maar dit is 'n uitstekende geestelike oefening vir my."




















