Wb Krieket

Starc boul Kiwi’s deurmekaar

Ná sy tweede nederlaag in minder as 'n week is Nieu-Seeland se krieketspan skielik nie meer een van die gunstelinge om vanjaar se Wêreldbekertoernooi te wen nie.

Australië het die Kiwi's Saterdag gemaklik met 86 lopies op Lord's in Londen geklop.

Die Aussies het eerste gekolf en 'n beskeie 243/9 in hul 50 boulbeurte aangeteken, waarna die Nieu-Seelanders vir 157 in 43.4 boulbeurte uitgeknikker is.

Die meeste van die Australiese se kolwers het gesukkel, met slegs Usman Khawaja (88, 129 balle) en

Alex Carey (71, 72 b) wat hondhaaraf teen die Swart Pette se boulers kon maak. Veral die snelbouler Trent Boult met sy 4/51 in 10 boulbeurte het die Aussies probleme besorg.

Maar Nieu-Seeland se kolfbeurt was selfs 'n groter ramp. Kane Williamson (40, 51 b) en Ross Taylor (30, 54) het probeer walgooi, maar het min ondersteuning van hul spanmaats gekry.

Die Kiwi's se laaste vyf paaltjies het vir 'n skamele 39 lopies geval, met die Australiër Mitchell Starc wat 'n feesmaal gehad het. Hy het met sy snelballe 5/26 in 9.4 boulbeurte platgetrek.

Die nederlaag kon nie op 'n slegter tyd vir die Kiwi's gekom het nie, nadat Pakistan hulle Woensdag met ses paaltjies geklop het. Nieu-Seeland bevind hom in die derde plek op die punteleer, met Engeland sy teenstander in sy laaste wedstryd Woensdag. - Sportredaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM