Wb Krieket

‘Swerwer’ Imran vind tuiste by Proteas

Sy ouers is dood voordat hulle kon sien hoe hy 'n enkele aflewering in internasionale krieket afstuur. Hy was boonop jare lank 'n swerwer wat op soek na 'n permanente kriekettuiste van span tot span gereis het.

Nou staan Imran Tahir op die drumpel van sy 100ste eendagwedstryd vir die Proteas. En al die swaarkry, sê hy, was die moeite werd.

"Ek ken moeilike tye," het dié 40-jarige bybreekbouler Saterdag op die vooraand van die Proteas se tweede Wêreldbeker-wedstryd Sondag teen Bangladesj op die Oval gesê.

"Dit is dus baie spesiaal vir my, ek kan nie in woorde omsit wat dit vir my beteken om my 100ste eendagwedstryd vir Suid-Afrika te speel nie."

Tahir het sy eersterangse buiging in 1996 reeds gemaak en sedertdien vir 24 spanne in ses verskillende lande gespeel. Die Proteas het vir hom 'n huis geword.

"Ek het my sibbe twee jaar laas gesien, maar ek doen dit omdat ek iets doen wat regtig vir my belangrik is - ek verteenwoordig Suid-Afrika.

"Dit is iets waaroor ek gedroom het, maar ek het nooit gedink dit sal gebeur nie," sê dié Pakistani van geboorte.

Tahir het sy buiging agt jaar gelede in 2011 by die WB-toernooi in Indië gemaak. Toe was hy 31 jaar oud.

"Ek is baie dankbaar vir alles wat Suid-Afrika vir my gegee het en hopelik kan ek die land terugbetaal deur goed te vertoon in dié WB-toernooi."

Hy is boonop die oudste speler by die toernooi, iets waarop hy baie trots is.

"Ons moet 50 beurte deurkolf en dan boul soos wat ons teen Engeland geboul het." - IMRAN TAHIR

"Om in dié Suid-Afrikaanse span te speel, moet jy baie fiks wees. Ek het baie gehardloop om seker te maak ek bly in die span," skerts hy.

Tahir, wat 164 eendagpaaltjies op sy kerfstok het, het reeds aangekondig dat hy ná die toernooi uit eendagkrieket tree. Hy sal egter steeds T20-krieket vir Suid-Afrika speel.

Tahir het reeds vir 'n verrassing gesorg by vanjaar se toernooi toe hy gevra is om die boulwerk Donderdag in die openingswedstryd teen Engeland te begin.

Dit het uitstekend gewerk en hy het met sy tweede aflewering van Jonny Bairstow ontslae geraak.

"Dit was 'n lekker uitdaging. Ons het 'n jaar lank aan daardie plan gewerk, maar ek dink dit het almal onkant betrap. Ek is net bly ek kon 'n paaltjie vir my span kry," sê hy.

Ondanks sy vroeë deurbraak, het die Proteas die wedstryd met 104 lopies verloor. Tahir het die woorde geëggo van sy kaptein, Faf du Plessis, wat gesê het die span sit nie in sak en as oor die nederlaag nie.

"Ons het 'n jaar lank aan daardie plan gewerk, maar ek dink dit het almal onkant betrap." - IMRAN TAHIR

Hulle het hul selfondersoek gedoen en vasgestel wat verkeerd gegaan het.

"Dit is nie wetenskap nie. Ons moet 50 beurte deurkolf en dan boul soos wat ons teen Engeland geboul het. As ons dít doen, glo ek ons sal oukei wees."

Volgens hom is die kolwers teleurgesteld oor die manier waarop die meeste van hulle hul paaltjies teen Engeland weggegee het. Daar was fel reaksie uit Suid-Afrika oor die kolwers se swak vertonings en Tahir sê "ek dink hulle (die Protea-kolwers) het dit opgemerk".

"Ek is seker hulle gaan sake regstel in Sondag se wedstryd."

Die Proteas se tweede wedstryd word op dieselfde kolfblad as Donderdag s'n gespeel, wat die speelveld vir Bangladesj gelyk kan maak. Tahir glo dit kan selfs daartoe lei dat die bal meer draai.

Dít maak Suid-Afrika se bybreekbouler nog meer opgewonde vir sy 100ste wedstryd.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM