Wb Netbal

Span van 250 vroue dek netbal op SuperSport

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

SuperSport se produksiespan, wat net uit vroue bestaan, het al baie bloedsweet, kommentaarsessies en ontledings agter hulle, maar vanaf Vrydag wag die grootste uitdaging tot nog toe.

SuperSport se span van 250 vroue, onder leiding van Hendrien Grové, die uitvoerende vervaardiger, het die laaste jaar of wat intensiewe opleiding ondergaan en gesorg vir suksesvolle uitsendings van verlede jaar se Diamantliga-uitdaagreeks, vanjaar se Vierhoekige reeks en die Nasionale Liga, waarvan die eindstryd vroeg in Julie beslis is.

Die Wêreldbeker-toernooi in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) bied 'n groter uitdaging - én groter TV-verhoog - met regstreekse dekking van al 60 wedstryde, waarvan sommige op dieselfde tyd plaasvind.

Saam met Suid-Afrika is Zimbabwe, Uganda en Malawi die verteenwoordigers van Afrika, vir die eerste skouspel tot nog toe op die vasteland.

Altesaam 16 spanne van al die Wêreldnetbal-streke het gekwalifiseer.

SuperSport is as die tuis-uitsaaier ook verantwoordelik vir die uitsendings wat deur Sky Brittanje, Fix Australia, die BBC, Sky NZ, Astro (Maleisië en Broenei), EmTV (Papoea-Nieu-Guineë), Flow Sports (Amerika) en Fiji TV gebeeldsend sal word.

SuperSport se uitsaai-sterre. Van links is Amanda Mynhardt, Simi Mdaka, Mampho Tsotetsi, Andee Mahamba, Zanele Mdodana, Nontle Gwavu en Vanes-Mari du Toit. Foto: Jaco Marais
SuperSport se uitsaai-sterre. Van links is Amanda Mynhardt, Simi Mdaka, Mampho Tsotetsi, Andee Mahamba, Zanele Mdodana, Nontle Gwavu en Vanes-Mari du Toit. Foto: Jaco Marais

Ontleders sluit in Anna Stanley (Nieu-Seeland), Madison Browne (Australië), Pamela Cookey (Engeland) en Simone Forbes (Jamaika).

Gesoute kommentators soos Jenny Woods, Caroline Barker en Sue Gaudion sal hul gehore op die hoogte hou.

Afrika word verteenwoordig deur Mary Waya, 'n voormalige ster van Malawi, Ruth Meeme, wat in 2015 en 2019 Uganda in WB-toernooie verteenwoordig het, en Perpetua Siyachitema, Zimbabwe se kaptein in 2019 se toernooi.

SA se gesoute span staan onder leiding van Andee Mahamba, en die gewese Proteas Vanes-Mari du Toit, Amanda Mynhardt, Zanele Mdodana, Nontle Gwavu, Simi Mdaka en Mampho Tsotetsi.

Wedstryde vind in twee Kiks-venues plaas en SuperSport-kommentators sal daar wees vir die opbou na wedstryde, gesprekke in rustyd en opsommings.

Soos in die Nasionale Liga sal 'n tweede ontleder langs die baan naby die spanne sit om kommentaar te lewer en bykomende inligting te gee. Sy sal afrigters vir insette vra, en die TV-kyker sal tydens kwarte kan inluister op spanpraatjies.

Suid-Afrika se wedstryde sal uitgesaai word op Variety 4 (SS 209) op die toegewyde Here for Her-kanaal, wat hom toespits op vrouesport.

Wedstryde wat terselfdertyd plaasvind, sal op Variety 3 (208) gekyk kan word.

Wedstryde sal ook regstreeks in Afrika gestroom word op Showmax Pro.

SuperSport se opleiding die laaste jaar of wat het ingesluit geleentheidsbetuur, uitsaaiproduksie, tegniese operasies en logistieke beplanning.

• Klik hier vir 'n volledige interaktiewe gids oor die Wêreldbeker-netbaltoernooi.

CTA