Wb Rugby

Die Pollard-vraagstuk

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Handré Pollard het van sy besering herstel, maar sy fiksheid is nie op peil nie. Foto: Getty Images
Handré Pollard het van sy besering herstel, maar sy fiksheid is nie op peil nie. Foto: Getty Images

Voor die Wêreldbeker-toernooi het die Springbokke se breintrust die Bokke se groepwedstryd teen Tonga as " 'n gevaarlike een" geoormerk.

Die gevaarsone van dié wedstryd Sondag is straks 'n kerf hoër met gisteraand se sleutelwedstryd teen Ierland, wat die volle aandag en fokus van die afrigtingspan geverg het - met Tonga vir eers in die agtergrond.

Niks wat die Bokke of die afrigters Jacques Nienaber en Rassie Erasmus die afgelope week in aanloop tot die toets teen Ierland gedoen of gesê het, het verraai wat hulle vir Tonga beplan nie.

Dié toets is in verskeie opsigte 'n tameletjie vir die Bok-breintrust. Grootliks weens die loslootjie wat die daaropvolgende week wag, voor die kwarteindronde die naweek van 14 Oktober.

Daar is veral twee spelers wat die komende week in die kollig sal wees: Handré Pollard en Vincent Koch. Hulle het nog glad nie speelkans in die toernooi gekry nie.

Besluit die Bok-breintrust om die tweetal, en die kern van die span wat teen Roemenië in Bordeaux in aksie was, teen Tonga te kies, sal die spelers wat teen Ierland gespeel het teen die tyd van die kwarteindstryde sowat twee weke laas toetsrugby gespeel het.

Anders as die Bokke sal Suid-Afrika se moontlike teenstanders in kwarteindstryde, Nieu-Seeland of Frankryk, eers op 5 en 6 Oktober hul groepwedstryde voltooi.

Pollard het hom eers die afgelope week ná sy besering by die Bok-kamp aangesluit. Hy het nog nie 'n minuut se rugby in die toernooi in Frankryk gespeel nie en nog net 30 minute ná sy kuitbesering vir sy Engelse klubspan, Leicester Tigers.

Hensop! Handré Pollard oefen die afgelope week saam met die Bokke in Frankryk.Foto: gallo
Hensop! Handré Pollard oefen die afgelope week saam met die Bokke in Frankryk.Foto: gallo

Al is Pollard (29) tans net 'n versekeringspolis vir ingeval Manie Libbok beseer raak, benodig hy speelkans as daar in die uitkloprondes noodgedwonge op sy knoppie gedruk moet word.

Erasmus het met Pollard se aankoms gesê hy moet eers baie tyd deurbring op die oefenveld waar hy deur die afrigtings- en mediese span gedruk en getoets sal word voordat hy vir 'n toets oorweeg word.

Die 33-jarige Koch se wedstrydskerpheid is net soos Pollard s'n 'n bekommernis.

Hy is enkele minute voor die afskop in die groepwedstryd teen Roemenië weens 'n kniebesering aan die 23-tal onttrek.

Toe die media Dinsdag se oefening in Parys bygewoon het, was Koch nie deel daarvan nie. Sy laaste toets vir die Bokke was op 19 Augustus teen Wallis in Cardiff.

Vincent Koch by 'n Springbok-oefening.
Vincent Koch by 'n Springbok-oefening.

Koch word sover in Frankryk beskou as die derdekeuse-vaskop ná Frans Malherbe en Trevor Nyakane. Sy wedstrydtyd kort egter aandag vir ingeval dit weens beserings nodig word dat hy later in die toernooi moet speel.

Die uitslag van gisteraand se toets teen Ierland kan ook 'n invloed op die Bokke se spankeuses vir die toets teen Tonga hê.

LEES: Jou volledige Wêreldbeker-gids

'n Oorwinning bied aan Erasmus-hulle die keuse om uit die vrees vir moontlike beserings teen die fisieke Tonga hul sogenaamde eerstekeuse-spelers vir die kragmeting in Marseille te rus.

Hulle sal dan ander planne moet maak om die spelers wedstrydskerp te hou met die oog op 'n moontlike kwarteindstryd.

'n Nederlaag kan Erasmus-hulle weer dwing om hul sterkste moontlike span te kies omdat 'n wen en selfs punteverskil dan sal bepaal of die Bokke tot die uitkloprondes deurdring of nie.

Die Bokke reis vanoggend van Parys na Toulon, waar hulle gaan voorberei vir Sondag se toets teen Tonga in Marseille.

Die Bokke hou vanmiddag 'n virtuele nuuskonferensie waar daar die eerste keer duidelikheid kan kom oor hul planne wat betref die loslootjie en rondom Pollard en Koch.

Hendrik Cronjé in Parys

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM