Nuus

Etzebeths verwelkom baba nr. 2, en Pollards is ook nou 4

Eben Etzebeth, sy sanger-vrou, Anlia, en hul twee dogtertjies.
Eben Etzebeth, sy sanger-vrou, Anlia, en hul twee dogtertjies. (Foto: Instagram/anliastar)

Die Etzebeth-gesin het Vrydag aangekondig dat hulle ’n vierde lid bygekry het.

Die Springbokslot Eben Etzebeth en sy vrou, Anlia, se tweede dogtertjie is luidens ’n Instagram-plasing sowat ’n week gelede gebore.

“Een week van ons,” het Anlia op Instagram geskryf en ’n foto gedeel waar sy in ’n hospitaalbed lê met hul jongste toevoeging in haar arms. Eben soen hul oudste dogtertjie, wat in Januarie verlede jaar gebore is, langs die bed.

Hulle het nog nie hul jongste se naam bekend gemaak nie en noem ook nie hul oudste by die naam op sosiale media nie. Talle mense het hulle gelukgewens, onder wie Rachel Kolisi, die eksvrou van die Bok-kaptein Siya Kolisi.

Kort voor hul tweede kind se koms het Anlia ’n plasing gemaak waar sy haar eersteling aanspreek en sê: “Jy sal altyd die een bly (en Pappa natuurlik) wat my die voorreg gegee het om ’n mamma te word. Dankie vir alles wat jy ons geleer het hierdie laaste 21 maande om ons voor te berei vir nr. 2.”

Isabella Tanya Pollard, die jongste toevoeging vir Handré en Marise Pollard. Hulle het ook ’n seun.
Isabella Tanya Pollard, die jongste toevoeging vir Handré en Marise Pollard. Hulle het ook ’n seun. (Foto: Instagram/Marise Pollard)

Die jongste toevoeging kom kort op die hakke van die aankondiging van die Pollard-gesin dat hulle ook nou ’n viertal is. Die Springbok-losskakel Handré Pollard en sy vrou, Marise, het Dinsdag hul dogtertjie se koms aangekondig.

“En net so het ons hele wêreld weer verander. Isabella Tanya Pollard, jy is so geliefd,” het Marise op Instagram geskryf by ’n video van hul pienkvoet. Hul oudste heet Hunter André Pollard en hy is in April 2024 gebore.

Voor haar dogtertjie se koms het Marise ’n video gedeel met kort uittreksels van haar ooievaarstee wat sy saam met nabye vriendinne en familie gevier het. “Dit was die beste dag waar ons babadogtertjie op die mooiste plek gevier is. Ek is so lief en dankbaar vir elkeen van julle,” het sy geskryf.

– ane.vanzyl@24.com

CTA