Teen gisteraand 23:00 het baie Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers seker nie meer vingernaels oorgehad nie. Maar elkeen van hulle sal vir jou sê die laaste drie weke van uitkloprugby was elke senutergende oomblik werd toe Siya Kolisi vir die tweede agtereenvolgende keer die Webb Ellis-trofee omhoog kon hou.
Die Bokke het gisteraand hul aartsvyande, die magtige All Blacks van Nieu-Seeland, met 12 - 11 geklop om vir die vierde keer as wêreldkampioene gekroon te word.
Op pad na gister se enorme eindstryd het die Springbokke ook naelbytseges van een enkele punt behaal oor Frankryk in die kwarteindronde én oor Engeland in die halfeindstryd. Om die waarheid te sê, in hul opmars na 'n rekord-vierde Wêreldbeker-titel, moes Kolisi en kie in vanjaar se toernooi met vyf van die ses topspanne op Wêreldrugby se ranglys afreken.
Die sesde en nr. 1-span is natuurlik Suid-Afrika self.
Rugbykenners is dit eens dat die Bokke nog nooit tevore aan so 'n moordende WB-veldtog onderwerp is nie. Dat hulle desnieteenstaande daarin kon slaag om gister nie net weer die Webb Ellis-trofee omhoog te hou nie, maar ook die eerste Bok-span in die geskiedenis geword het wat agtereenvolgende titels kon verower, spreek boekdele van die karakter van dié span.
Die loting vir die pasafgelope WB-toernooi in Frankryk het natuurlik bygedra tot die Bokke se strawwe skedule. Dit is reeds gedoen in 2020, bykans drie jaar voordat die toernooi sou afskop. Dit het gelei tot 'n totaal onewewigtige toernooi, met die vyf voorste spanne op die Wêreldrugby-ranglys wat in twee groepe beland het.
Vanjaar s'n was ongetwyfeld die moeilikste roete wat enige Bokspan nog na die eindstryd moes volg.
— Hennie le Roux
Gevolglik is Ierland, die wêreld se nr. 1-span met die aanvang van die toernooi, en die gashere, Frankryk, reeds in die kwarteindronde uitgeskakel, wat natuurlik veral in die Noordelike Halfrond hope trane ontketen het. In reaksie het Wêreldrugby die afgelope week aangekondig dat die loting vir 2027 se toernooi so laat as Januarie 2026 sal plaasvind, om dieselfde konsternasie as vanjaar te vermy.
Volgens Hennie le Roux, voormalige Bok-senter en een van die helde van Suid-Afrika se eerste WB-triomf in 1995, was vanjaar s'n ongetwyfeld die moeilikste roete wat enige Bokspan nog na die eindstryd moes volg.
"Die eerste wedstryd teen Skotland was reeds 'n taamlike toets," meen Le Roux. "Die Skotte het heelwat verbeter oor die afgelope klompie jare en hulle het die vermoë om van die groter spanne te laat les opsê.
"Ons nederlaag met vyf punte teen Ierland was 'n reuse-toets, en een wat ons kon gewen het as die span sy kanse pale toe behoorlik benut het.
"Daarna het Tonga gevolg, en hoewel ons uiteindelik met meer as 30 punte geseëvier het, was die Tongane, soos al die Suidsee-eiland-spelers, geweldig fisiek. Só 'n wedstryd haal baie uit 'n mens en die Bokke het daarna, veral teen Engeland in die halfeindronde, tam gelyk.
"Uit 'n suiwer statistiese oogpunt het Suid-Afrika waarskynlik nie verdien om die kwarteind- of halfeindstryd te wen nie. Dit wat ons daardeur getrek het, was egter iets besonders . . ."
Een groot voordeel 28 jaar gelede was dat ons op tuisbodem gespeel het.
Le Roux sê die Bokke het in 1995 'n ietwat makliker roete na die eindstryd teen die All Blacks gehad.
"Hoewel Kanada ook uiters fisiek was daardie jare, en gesorg het vir die groot baklei-wedstryd in Port Elizabeth wat tot die skorsing van Pieter Hendriks en James Dalton gelei het, was dit nietemin 'n makliker wedstryd. Dieselfde geld Roemenië, hoewel hulle ons tóé heelwat meer opdraande gegee het as vanjaar.
"Een groot voordeel 28 jaar gelede was dat ons op tuisbodem gespeel het."
Gert Smal, 'n voormalige Bok-flank, was 'n hulpafrigter toe Suid-Afrika in 2007 hul tweede WB-titel, ook in Frankryk, ingepalm het. "Ons het toe ook in die groepfase teen Tonga gespeel, en geswoeg om hulle onder te kry," onthou Smal.
"Die meeste van die 40 000 mense in die stadion in Lens het Tonga luidkeels aangemoedig, so hulle was uiters gemotiveerd. Ons het net-net met 30-25 deurgeskuur.
"Die kwarteindstryd teen Fidji was net so moeilik, en ons kon eers in die laaste 10 minute die knoop deurhak (37-20). Daarna het ons teen Argentinië, 'n flippen taai span, in die halfeindstryd te staan gekom. Die feit dat sowel die Poemas (halfeindstryd) as Engeland (eindstryd) geweldig baie geskop het, het ons egter soos 'n handskoen gepas.
"Ons was byvoorbeeld bekommerd dat Os du Randt, wat toe reeds 35 jaar oud was, nie die pas van die eindstryd sou kon volhou nie, maar omdat daar so baie geskop is, het dit nie te veel hardlopery van die voorspelers geverg nie. Os kon enduit speel."
Smal stem saam dat vanjaar se Bokke verreweg die moeilikste loting van enige span in die WB-geskiedenis gehad het. "Om Frankryk, in Frankryk, te moes tem in die kwarteind, was op sigself 'n reuse-taak.
"Persoonlik sou ek graag wou gesien het dat die top-vier-spanne darem in die halfeindstryd, en nie die kwarteindronde nie, teen mekaar speel. Dit het egter weens die loting vir vanjaar se toernooi nie so uitgewerk nie, en ek haal my hoed af vir die innoverende wyse waarop Suid-Afrika daardie uitdaging die hoof gebied het.
"Rassie Erasmus en Jacques Nienaber se aanwending van reserwes, en vernaam die 7/1-bankverdeling, was meesterlik en deurslaggewend.
"Die ouderdomsgroep van die Bokgroep is ook presies waar 'n mens dit wil hê wat betref ervaring. Dit was die mees ervare span wat Suid-Afrika nog ooit in die veld gestoot het."








