Wb Rugby

Iere troef verbeeldinglose Engelse sonder moeite

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ierland se Mack Hansen op die aanval teen Engeland. Foto: AP
Ierland se Mack Hansen op die aanval teen Engeland. Foto: AP

'n Soms slordige Ierland het op die wenpad gebly met sy oorwinning met 29-10 oor Engeland in 'n opwarmingswedstryd vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi, wat die verloorspan boonop dalk sy agtsteman, Billy Vunipola, kan kos.

Vir 'n wedstryd wat hoofsaaklik voorafgegaan is met die verrassende ommekeer van Owen Farrell se rooi kaart verlede naweek en die gevolglike appèl deur Wêreldrugby, sal 'n soortgelyke duikslag deur Vunipola dié week se groot besprekingspunt wees.

Selfs met 15 spelers kon Engeland min bedreiging bied, ten spyte daarvan dat die Sesnasies-kampioen self nie met veel ritme gespeel het nie.

Vunipola se rooi kaart in die 52ste minuut vir 'n skouerloop op Andrew Porter het net verder tot die wedstryd se eensydigheid bygedra.

"Dit het iets van alles gehad - die goeie, die slegte en die lelike," het Andy Farrell, Ierland se breier, agterna gesê.

Engeland het belowend begin en voorgeloop danksy 'n strafskop deur George Ford, wat die eerste keer sedert 2021 in die beginspan was. Dit was basies al positiewe vir Steve Borthwick se span, wat in hul afgelope vyf wedstryde net vier drieë kon druk en 20 punte afgestaan het.

Die eerste hiervan het gekom toe Ierland hom oopgekloof het met Bundee Aki wat afgerond het ná 'n goeie aangee.

Die akkuraatheid was 'n kwelpunt vir albei spanne vir die meeste van die res van die eerste helfte met Ierland wat in beheer was, maar tog 'n manier gevind het om besit weg te gee wanneer hulle kon toeslaan.

Dan Sheehan het kort voor die rustydfluitjie die veld met 'n besering verlaat en Ierland sal asem ophou oor sy beskikbaarheid. Met Ronan Kelleher wat ook sukkel met sy fiksheid, kan Farrell nie juis bekostig om sy voorkeur op haker te verloor nie.

Net soos wat dit gelyk het asof die eerste helfte op 'n vervelige noot sou eindig, het Ierland weer op die aanval gegaan en Engeland van die een kant van die veld na die ander gejaag, voordat Mack Hansen met 'n dwarsskop die arms van Garry Ringrose gevind het om in die hoekie oor te duik.

Dit het iets van alles gehad - die goeie, die slegte en die lelike.

Engeland het uit hul diepte gelyk, was voorspelbaar en hul afronding het ook ontbreek.

Die damwal het gedreig om te breek nadat Vunipola - die enigste spesialis op agtsteman in Engeland se groep - se aanvanklike geel kaart na rooi hersien is, en die vleuels James Lowe en Hansen het weer gedruk.

Engeland het ietwat beter vertoon met 'n man in die koelkas en Kyle Sinckler het met sy drie verlore aansien herwin.

Ierland het egter die laaste sê gehad toe Keith Earls, in sy 100ste toets, opgekom het en self in die hoekie gaan druk het.

"Ek dink Ierland raak 'n baie moeilike teenstander as jy hulle met 14 spelers moet pak, maar dit was lank 'n taai kragmeting," sê Borthwick.

"Dit is duidelik dat ons aan ons afronding moet werk tydens die laaste derde van die wedstryd."

Ierland, wat nou 12 op 'n streep gewen het, het nog een opwarmingswedstryd oor teen Samoa in Frankryk op 26 Augustus, voordat sy Wêreldbeker-veldtog op 9 September teen Roemenië begin.

Engeland tree volgende as gasheer op vir Fidji en pak eerste vir Argentinië in die skouspel. - Reuters, Sportredaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM