Die skitterende losvoorspeler Caelan Doris is vol vertroue dat Ierland se aanval Suid-Afrika ernstige skade kan berokken indien die wêreld se voorste span die verdedigende kampioen in Saterdag se Wêreldbekerwedstryd fisiek kan tem.

Doris (25) sê hy en sy spanmaats is voorbereid vir die drukkoker van die Stade de France en sy 80 000 toeskouers en dat hulle danksy November se oorwinning oor die Springbokke in Dublin van selfvertroue oorloop.
Hy erken dat die Bokke sedertdien "nogal baie ontwikkel het", maar dieselfde geld Ierland: hulle is boaan die ranglys, die Sesnasieskampioen en in 15 toetse agtereenvolgens onoorwonne.
Dit sluit in die oorwinning van 19-16 teen die Bokke in November in Dublin wat volgens Doris "beslis" aan Ierland selfvertroue gee.
• Klik hier vir 'n volledige Wêreldbekerrugby-gids
"As ek terugkyk na daardie toets het ons vooraf besef dat ons verdediging en fisieke aanslag 'n sleutelrol sal speel," sê hy.
"Ons het daardie week in Dublin die intensiteit gelig en ons weet ons moet hierdie week dieselfde doen.
"Ek dink as ons hulle daar kan ewenaar, het ons baie geloof in wat ons op die aanval kan vermag. Ons het die afgelope weke 'n bietjie daarvan bewys, maar Saterdag is beslis 'n strawwe toets."

Ierland se aanval het beslis Roemenië en Tonga aan flarde geskeur: 20 drieë in dié twee Groep B-wedstryde getuig daarvan.
Maar Doris is onder geen illusie nie dat die Bokke geensins so vrygewig soos hulle vorige teenstanders sal wees nie.
Hy was veral beïndruk met hulle vertoning toe hulle Nieu-Seeland verlede maand met 'n rekordtelling van 35-7 geklop het.
Hy skryf daardie vertoning grootliks aan een ding toe.
"Harde fisieke aanslag is die woorde wat by my opkom," sê Doris.
"Ek onthou hoe ek in November selfs net deur hulle eenvoudige grootte geskok was. Die feit dat hulle 'n 6/2 (ses voorspelers, twee agterspelers) of selfs nou soos teen ons 'n 7/1 op die bank kies en boonop oor reuseversterkings beskik . . .
"Uiteraard loop hulle fisieke aanslag hand aan hand met hulle vaste fasette. Hulle het 'n goeie rolmaal, 'n baie sterk lynstaan en uitstekende skrum."

Doris, wat tussendeur sy verpligtinge as beroepsrugbyspeler 'n graad in sielkunde behaal het, sê Ierland beskik ook oor kenmerke wat teenstanders intimideer.
"Ons het voorspelers met uitstekende balvaardighede. Ons beskik oor talle aanvallende wapens soos goeie baldraers, maar ons het ook goeie balverspreiders, dus is dit nie net bal onder die arm en vorentoe dra nie.
"Daar is voetwerk, balverspreiding en goeie baldraers. Hopelik vind verdedigende spanne dit 'n bietjie intimiderend."
Doris sê sy vorige ervaring om in die Stade de France te speel - 'n Sesnasiesnederlaag teen Frankryk verlede jaar - sal help om die intimiderende atmosfeer baas te raak.
Die Iere sal ook kan staatmaak op duisende Ierse ondersteuners, baie meer as wat hulle gewoonlik in die buiteland volg, wat hulle in die stadion sal ondersteun. Boonop is die tuisspan nie in aksie nie, maar dit sal ook in die Bokke se guns tel. - AFP



















