O’Connell-gebaar kompliment vir Ierse onbesonge held

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Andrew Porter sit Saterdag op lopie af teen Suid-Afrika in Parys. Eben Etzebeth is die Springbok wat hom probeer keer. Foto: Getty Images
Andrew Porter sit Saterdag op lopie af teen Suid-Afrika in Parys. Eben Etzebeth is die Springbok wat hom probeer keer. Foto: Getty Images

Wanneer daar oor die Ierse rugbyspan gepraat word, kom die name van sterre soos Johnny Sexton en Bundee Aki gewoonlik ter sprake, maar twee stutte tel onder die Iere se onbesonge helde.

Tadhg Furlong (vaskopstut) en die loskopstut Andrew Porter verteenwoordig presies die veerkragtigheid en karakter waarvan Ierland se afrigter, Andy Farrell, gepraat het ná die sege oor die Springbokke. Ierland het Suid-Afrika Saterdagaand in 'n Groep B-kragmeting in die Wêreldbeker-toernooi met 13-8 in Parys geklop.

Tadhg Furlong het ontwikkel in een van die wêreld se voorste stutte. Foto: AFP
Tadhg Furlong het ontwikkel in een van die wêreld se voorste stutte. Foto: AFP

Hoewel Aki (senter) vir sy uithalerspel as Speler van die Wedstryd aangewys is, het Porter uit 'n onverwagse oord 'n kompliment vir sy spel ontvang toe hy die veld in die 75ste minuut teen die Bokke verlaat het.

Paul O'Connell, voorspeler-afrigter van die Iere, het toe opgestaan en vir Porter applous gegee. Gegewe dat O'Connell, 'n voormalige kaptein van Ierland, nie bekend is as iemand wat maklik komplimente vir spelers uitdeel nie, was dié gebaar iets om te onthou en te koester.

• LUISTER | Hendrik Cronjé verklap watter Bokmonsterskepdoele op die oefenveld oorklits

Porter en Furlong is egter albei die soort mense wat komplimente, sowel as kritiek op 'n tipe nonchalante manier benader - dieselfde wyse waarop hulle weer opstaan en voortspeel ná 'n harde duikslag op die veld.

Porter (27) se karakter is vroeg in sy lewe gevorm toe sy ma, Wendy, aan borskanker dood is toe hy net 12 jaar oud was.

"Daar gaan nie 'n dag verby dat ek nie aan haar dink nie," sê Porter, wat sy ma se naam op sy arm getatoeëer het.

Paul O'Connell (links) en Andy Farrell tydens 'n oefensessie van die Iere in Bayonne. Foto: Getty Images
Paul O'Connell (links) en Andy Farrell tydens 'n oefensessie van die Iere in Bayonne. Foto: Getty Images

In reaksie op sy ma se dood, het Porter, wat vir die Ierse klubspan Leinster speel, destyds 'n eetversteuring ontwikkel.

"Ek het verander van die grootste kind onder my vriende, na die maerste," het Porter by die WB-toernooi in 2019 onthul.

" 'n Paar jaar gelede het ek foto's van myself gesien wat van daardie tyd dateer. Ek het dit opgeskeur en weggegooi. Maar al die pyn en angs waardeur ek is, het my gemaak wie ek is."

• Klik hier vir 'n volledigeWêreldbekerrugby-gids

Furlong (30) het ook probleme met sy gewig gehad toe hy grootgeword het op hul familieplaas in County Wexford. Hy het 'n aktiewe plaaslewe gelei, totdat die speletjie "Crash Bandicoot" op PlayStation op die toneel verskyn het. Dit het daartoe gelei dat hy heelwat minder tyd buite deurgebring het omdat hy en sy broer omtrent dag en nag die speletjie gespeel het. Die gevolg was dat hy gewig opgetel het, het hy verlede jaar in 'n podsending van Wêreldrugby vertel.

Furlong se ouers, wat glad nie beïndruk was nie, het hul spruit destyds vertel dat hy "so groot soos 'n bees is" en het sy PlayStation se konsole weggesteek. Dit het die gewenste uitwerking gehad, want Furlong het ontwikkel in een van die wêreld se voorste stutte.

Ierland, steeds onoorwonne in vanjaar se WB-toernooi, se laaste groepwedstryd is aanstaande Saterdag teen Skotland in Parys.

Sou die Iere soos verwag word, eerste in Groep B eindig, sal hulle waarskynlik teen Nieu-Seeland in die kwarteindronde te staan kom. Sou dít gebeur, sal dit 'n herhaling van hul kwarteindstryd in 2019 wees toe die All Blacks Ierland met 46-14 in Chofu, Japan, afgestof het.

Die Iere, die voorste span op Wêreldrugby se ranglys, kon nog nooit nie halfeindronde van die WB haal nie. - AFP; Sportredaksie

Grafika24
Grafika24

SPELETJIES VANDAG

CTA