Wb Rugby

Steyn, Van der Merwe deel in Skotse drieëfees

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kyle Steyn duik Sondag oor vir sy drie teen Tonga in Nice. Foto: Getty Images
Kyle Steyn duik Sondag oor vir sy drie teen Tonga in Nice. Foto: Getty Images

Kyle Steyn en Duhan van der Merwe, Skotland se vleuels wat in Suid-Afrika gebore is, het Sondag elkeen 'n drie gedruk in hul span se oorwinning oor Tonga in die Wêreldbeker-rugbytoernooi.

Die Skotte het sewe drieë gedruk om die Groep B-kragmeting met 45-17 in Nice te wen.

Die Skotte was eerste op die telbord toe George Turner (haker) van 'n rolmaalbeweging gaan afrond het. Skotland het letterlik meters veld met dié beweging gewen voordat Turner afgerond het.

Voordat die fluitjie vir rustyd geblaas het, het Steyn (regtervleuel), Van der Merwe (linkervleuel) en ook die Skotte se flank Rory Darge agter die doellyn gaan kuier. Dit het die telling teen rustyd 24-10 in die wenspan se guns gemaak - en belangriker, Skotland het toe reeds die vierde drie vir 'n bonuspunt gedruk.

Hoewel die Skotte 'n paar foute in die eerste helfte gemaak het, soos byvoorbeeld om die bal 'n keer of wat in kontak te verloor, het hulle goeie rugby gespeel. Finn Russell, losskakel van Skotland, het 'n paar keer sy klas gewys deur die toutjies vernuftig te trek met goeie balverspreiding.

Tonga se vleuel Afusipa Taumoepeau is in die eerste helfte met 'n geel kaart van die veld gestuur nadat sy kop met Jamie Ritchie, flank en kaptein van Skotland, s'n kontak gemaak het. Ritchie is van die veld vir 'n harsingskuddingstoets en hy het nie weer na die speelveld teruggekeer nie.

Vroeg in die tweede helfte het Tonga se kaptein, Ben Tameifuna (stut), soos 'n wafferse stoomroller sy pad doellyn toe oopgebeur om sy span se tweede drie te druk. Maar Tonga se vreugde was van korte duur, want kort daarna het Van der Merwe opnuut almal herinner dat hy ook 'n stoomroller is. Sy sterk lopie met die bal onder die arm het uitgeloop op George Horne se drie - Skotland se vyfde in die wedstryd.

Laat in die wedstryd het Van der Merwe weer sy vaart tentoongestel toe hy 'n paar draaie om 'n Tongaan of twee gehardloop het. Hy is welverdiend vereer met die toekenning as Speler van die Wedstryd.

Duhan van der Merwe druk een van die Skotte se sewe drieë teen Tonga.  Foto: Getty Images
Duhan van der Merwe druk een van die Skotte se sewe drieë teen Tonga. Foto: Getty Images

Tonga se losskakel in die beginspan, William Havili, 'n boorling van Nieu-Seeland, is die broer van die All Black-senter David Havili.

Tonga, steeds segeloos in vanjaar se WB-toernooi, se volgende groepwedstryd is eerskomende Sondag teen die Springbokke in Marseille.

Die Skotte speel Saterdag teen Roemenië.

• Puntemakers: Skotland 45 (24): Drieë: George Turner, Duhan van der Merwe, Kyle Steyn, Rory Darge, George Horne, Blair Kinghorn, Darcy Graham. Doelskoppe: Finn Russell (5). Tonga 17 (10): Drieë: Solomone Kata, Ben Tameifuna. Doelskoppe: William Havili (2). Strafdoel: Havili.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM