Die spelers van die Russiese sokkerspan is almal helde.

Dít was die boodskap uit die Kremlin nadat dié dapper gasheerspan van die Wêreldbeker-sokkertoernooi Saterdag in die kwarteindronde in 'n strafdoelstryd met 4-3 teen Kroasië verloor het. Die Kroate speel nou Woensdagaand (20:00) teen Engeland in die tweede halfeindstryd. Frankryk en België speel Dinsdagaand, ook om 20:00, in die eerste halfeindstryd.
Rusland het vriend en vyand met hul dapper veldtog verras en dié span se ondersteuners het hul span daarvoor geloof.
Die tuisland was die span wat die swakste posisie op die wêreldranglys beklee het, maar hulle het 'n paar opskuddings veroorsaak. Die grootste van dié opskuddings was beslis hul sege in 'n strafdoelstryd teen die voormalige kampioen Spanje in die tweede ronde.

Wladimir Poetin, die Russiese president, het nie Saterdag se kwarteindstryd in Sotsji bygewoon nie, maar hy het die spelers nietemin as helde bestempel en sê die land is trots op hulle.
"Hy (Poetin) het gekyk en vir die span geskree. Ons het in 'n regverdige en uitstekende wedstryd verloor. Hulle is almal wonderlike ouens, hulle is helde. Hulle het amper doodgegaan op die veld en ons is trots op hulle," sê Dmitri Peskof, woordvoerder van die Kremlin.
Ondanks die nederlaag, het partytjies in die strate van Moskou tot laat in die nag geduur.
"Wat ons bereik het, is so koel," het 'n ondersteuner, Andrey, 'n prokureur, ná die wedstryd gesê.
Die Kremlin het die feesvieringe vergelyk met beelde van hoe mense ná die Tweede Wêreldoorlog feesgevier het.
Soldate in hul kaserne in Rostof-on-Don, ballerinas in St. Petersburg en selfs diertemmers by 'n sirkus in Moskou het die aksie met 'n valkoog dopgehou.
Die Russe was eers met 1-0 voor, voordat sake ná bykomende tyd steeds met 2-2 gelykop was en 'n strafdoelstryd die wenner moes bepaal.
"Dit was asof die roulettetafel nie in ons guns was nie," sê die ondersteuner Andrey.
Stanislav Cherchesov, die Russiese afrigter, het ook sy span geloof.
"Ons was 'n baie goeie gasheerland in alles, van die sokker wat ons gespeel tot die organisering en administrasie van die toernooi."
Die Russe is gelukkig, maar die Kroate is in die wolke. Hulle sal Woensdag vir die eerste keer sedert 1998 in 'n Wêreldbeker-halfeindstryd speel.
Die man op wie se skouers die sege gebou was, die kwiksilwer-kaptein, Luka Modric, sou graag wou hê sy span moes die wedstryd in gewone speeltyd wen.

"Ons moes voor die strafdoelstryd reeds met hulle afgereken het, maar dalk was dit só in die sterre geskryf dat ons meer drama moes trotseer," sê Modric, wat as die speler van die wedstryd aangewys is.
Kroasië sal wel op sy pasoppens moet wees vir 'n gedissiplineerde, jong en honger Engelse span wat Saterdag vir Swede met 2-0 in hul kwarteindstryd geklop het. Die Engelse ondersteuners droom groot en hul leuse is nog die heeltyd: "Dit (die beker) kom huis toe."
Sokker het immers in Engeland ontstaan, maar dié land kon die toernooi nog net een keer - in 1966 op tuisbodem - wen.
Die Engelse het reeds die harte van hul ondersteuners gewen. Luc Jones, een van dié ondersteuners, was in die verlede teleurgesteld in Engelse spelers wat "meer oor hul haarstyle, popstermeisies en nuwe sportmotors omgegee het as om 'n bal te skop".
"Maar dié keer kan dit anders wees en ons sal waag om te droom. Dit kom huis toe," sê Jones. - Reuters



















