
Vir amper 90 minute het Egipte uitstekend verdedig, maar 'n kopskoot deur Uruguay se Jose Gimenez het die Afrika-nasie tot 'n nederlaag van 0-1 verdoem in Vrydag se Wêreldbeker-sokkerwedstryd in Jekaterinburg, Rusland.
Tot in daardie stadium was dit 'n frustrerende kragmeting vir die Suid-Amerikaners. Hulle het die wedstryd oorheers, maar is in die tweede helfte etlike kere deur die Egiptenare se dapper doelwagter, Mohamed Elshenawy, sukses ontsê.
In die eerste helfte was daar bitter min aksie in die doelhokke met die doelwagters - Elshenawy en Uruguay se Fernando Muslera - wat nooit buite hul gemaksone was nie.
Die enigste goeie geleentheid op 'n doel is in die 14de minuut deur Uruguay se gevierde doelskieter, Luis Suarez, verbrou.

Egipte, wat verras het deur die briljante doelskieter Mo Salah op die plaasvervangersbank te kies, het goed verdedig en Uruguay min ruimte in die middelveld gegun.
In die tweede helfte was daar uit die staanspoor reeds aksie met Elshenawy wat sy knie in die pad van Suarez se skoot doelhok toe gekry het.
Elshenawy het later in die helfte ook die bal onder Suarez se voete uitgepluk toe die doelskieter deur was.
Vir Edinson Cavani was daar ook frustrasie toe Elshenawy 'n vlieënde keerslag uit sy hoed getrek het om die telling 0-0 te hou.
Daar was vir die Afrika-nasie ook 'n tikkie geluk toe 'n skop deur Cavani die doelhok se regoppaal getref het.
Net toe dit lyk asof die Egiptenare se plan gaan werk om 'n gelykopstryd deur rotsvaste verdediging te bewerkstellig, het Gimenez se kopskoot van 'n vryskop vir Uruguay die sege gegee wat hy, gegewe sy vertoning Vrydag, verdien het.
Doelskieters: Uruguay 1 (0): Jose Gimenez; Egipte 0 (0).




















