Wb Sokker

Engeland breek Aussies se harte

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ella Toole van Engeland word lastig geval deur Australië se Katrina Gorry in Woensdag se WB-halfeindstryd in Sydney. Foto: Getty Images
Ella Toole van Engeland word lastig geval deur Australië se Katrina Gorry in Woensdag se WB-halfeindstryd in Sydney. Foto: Getty Images

Die Engelse vrouesokkerspan speel Sondag vir die eerste keer in 'n Wêreldbeker-eindstryd nadat hy Woensdag voor 78 000 toeskouers in Sydney alles moes uithaal om Australië met 3-1 te klop.

Dié halfeindstryd het in die Olimpiese Stadion plaasgevind.

Engeland het die Aussies se troefkaart, Sam Kerr, goed vasgepen en was nie bang om haar grond toe te bring elke keer wanneer sy 'n bedreiging ingehou het nie.

Kerr het egter in die 61ste minuut die stadion behoorlik laat dreun toe sy die Aussies se doel aangeteken het. Dit was egter nie genoeg om die Engelse uit die eindstryd te hou nie.

Die doelwagters, Mary Earps (Engeland) en Mackenzie Arnold (Australië), het vroeg reeds hul beste keerwerk vertoon om onderskeidelik vir Kerr en Georgia Stanway in toom te hou.

In die 29ste minuut is 'n skoot deur die Matildas se Hayley Raso deur Lucy Bronze, verdediger van Engeland, vir 'n hoekskop gedeflekteer.

Sarina Wiegman (afrigter) se Engelse span het egter in die 36ste minuut die voortou geneem. Arnold kon net mooi niks doen om 'n Ella Toole-dryfskoot uit te hou nie. Dié doel het gekom ná goeie spel deur Lauren Hemp.

Die Aussies, aangevuur deur die raserige tuisskare, het die tweede helfte sterk begin en die druk opgelaai. Engeland se verdedigers, met die kaptein Millie Bright aan die spits, het egter rotsvas gestaan.

Dit was Hemp wat die eerste doelkans gekry het, maar haar skoot is deur Arnold vir 'n hoekskop gestuur. Bright was toe net-net van koers af met haar kopskoot ná die hoekskop.

Die Aussies het sterker vertoon en in die 61ste minuut het Kerr gewys waarom sy een van die dodelikste doelskieters in vrouesokker is. Haar skoot van buite die doelgebied het Engeland se doelwagter na vars lug laat gryp.

Die Engelse sokkerspelers vier Ella Toole se doel in die eerste helfte teen Australië. Foto: Getty Images
Die Engelse sokkerspelers vier Ella Toole se doel in die eerste helfte teen Australië. Foto: Getty Images

Maar Wiegman se span is bekend vir sy veggees. En toe die Aussies se verdediging in die 70ste minuut aan die slaap gevang is, het Hemp die kans aangegryp om die besoekers weer die voortou te laat neem.

Earps moes daarna weer keer om Cortnee Vine uit te hou, terwyl Kerr, wat haar klubsokker vir Chelsea in Engeland speel, twee kanse gekry het om die gelykmaker aan te teken.

Daar was egter geen terugkomkans vir die Matildas nie toe Alessia Russo in die 86ste minuut haar span se voorsprong vergroot het.

En nadat Engeland in die twee vorige toernooie in die halfeindronde gesneuwel het, sal Wiegman se span nou Sondag in dieselfde stadion kans kry om Spanje om die gesogte titel aan te durf.

CTA