Engeland het Dinsdagaand tot die kwarteindronde van die Wêreldbeker-sokkertoernooi deurgedring toe hy Colombia in 'n strafdoelstryd met 4-3 geklop het nadat die telling ná bykomende tyd met 1-1 gelykop was.

Dit was die eerste keer ooit dat Engeland 'n strafdoelstryd in die Wêreldbeker-toernooi gewen het. Engeland is bekend daarvoor dat hy vou in strafdoelstryde en voor Dinsdagaand het dit al drie keer met hom in WB-toernooie gebeur.
Mateus Uribe van Colombia se strafdoelpoging het die regoppaal van die doelhok getref waarna Jordan Pickford, Engeland se doelwagter, Carlos Bacca, se skoot gekeer het.
Eric Dier het Engeland se sege verseker met sy suksesvolle strafdoel.

Engeland sal Swede, wat Switserland vroeër Dinsdag met 1-0 geklop het, Saterdag in die kwarteindronde pak.
Die kragmeting tussen Engeland en Colombia in Moskou was nes dié tussen Swede en Switserland nie een van die meer opwindende wedstryde van die toernooi nie. Sokker staan bekend as "die pragtige spel", maar Dinsdagaand was dit allesbehalwe die geval met meer vuilspel, kaarte en aansittery as sokker.
Colombia is nie meer die flambojante span propvol flair van vroeër nie en moes sonder die beseerde James Rodriguez, sy mees elegante speler, klaarkom.
Engeland het ook nie die wêreld aan die brand gespeel nie.
Boonop het die Amerikaanse skeidsregter Mark Geiger vroeg beheer verloor. Hy het uiteindelik agt geelkaarte - ses vir Colombia en twee vir Engeland - uitgedeel.

Engeland het eerste bloed geruik toe Harry Kane (wie anders?) in die 57ste minuut met 'n strafdoel geslaag het.
Hy moes byna vier minute wag om die skop waar te neem omdat humeurige Colombiane nie Geiger se beslissing wou aanvaar nie.
Dit was Kane se sesde doel van die toernooi. Dit was die 27ste strafskop wat in die toernooi toegeken is.
Colombia het ná die strafdoel beheer oorgeneem en dit het gelyk of Engeland net sy voorsprong wil verdedig.
Dié strategie het nie gewerk nie en Yerry Mina het in die 93ste minuut die telling gelykop gemaak met 'n kopskoot ná 'n hoekskop.

Colombia was ook die beter span in die eerste helfte van bykomende tyd en Engeland het eers weer in die tweede helfte van bykomende tyd gevaarlik op die aanval begin lyk.
Hoewel Engeland gewen het, het hy glad nie oortuig nie en sal Swede nie juis rondrol van die kommer nie.
Colombia het meer daarin belang gestel om die man as die bal te speel en nie juis veel vriende gewen nie. Dit is jammer, want die Colombiane kan goeie sokker speel as hulle wil.
*Uruguay sal Vrydag teen Frankryk te staan kom en Brasilië sal België pak.
Saterdag is dit Rusland teen Kroasië en Swede teen Engeland.
Die eindstryd is op 15 Julie.
Uitklopwedstryde: Bepalings en uitslae





















