Dit was Vrydag 'n dag van verbroude kanse in die Wêreldbeker-toernooi vir vroue in Australië.
Dinge het in die eerste wedstryd lelik vir Suid-Afrika skeefgeloop nadat hy 'n voorsprong van 2-0 weggegooi het om uiteindelik met 2-2 teen Argentinië gelykop te speel.
Albei dié Groep G-spanne het nog 'n geringe kans om die uitklopronde te haal, met Swede en Italië wat nou in beheer is.
Die ander twee wedstryde was albei in Groep D, waar daar nog druk geworstel word om die top-spanne te bepaal.
Engeland, die Europese kampioen, het nog nie juis die wêreld aan die brand gespeel nie, maar was té sterk vir Denemarke.
'n Skitterende doel vroeg in die wedstryd in Sydney deur Lauren James was genoeg om die Engelse vir 'n tweede wedstryd agtereenvolgens met 1-0 te laat wen. Met ses punte op die puntelys is die afrigter, Sarina Wiegman, se span byna verseker van plek in die ronde van 16.
Denemarke het in die 24ste minuut teen die verloop van die spel byna 'n gelykmaker aangeteken toe Rikke Madsen met slim spel net-net 'n doelkans verbrou het.
Die Dene het toe skielik vir 10 minute sake oorheers en die Engelse verdedigers onder groot druk geplaas.
Engeland het 'n groot knou gekry toe sy stermiddelskakel, Keira Walsh, die veld met 'n kniebesering verlaat het.

Lars Sondergaard (afrigter) het talle veranderinge in die tweede helfte aan die Deense span aangebring in 'n poging om uit Engeland se wurggreep te ontsnap.
China het later op sy beurt vir meer as 60 minute met net tien spelers moes klaarkom, maar het steeds genoeg skietgoed gehad om Haïti in Adelaide te klop.
China was onder geweldige druk, maar het in die 74ste minuut van die strafkol af sukses behaal om die wedstryd te wen. Die plaasvervanger Wang Shuang het die bal sekuur in die net gebêre en Haïti se doelwagter, Kerly Théus, geen kans gebied nie.
Voor dié doel was dit Häiti, wat vir die eerste keer aan die WB-toernooi deelneem, wat al die druk toegepas het. Dié span het momentum opgebou nadat China se Zhang Rui in die 29ste minuut met 'n rooi kaart gestraf is.
Die skeidsregter het aanvanklik die geel kaart uitgehaal, maar het haar besluit verander nadat sy die video-skeidsregter (VAR) geraadpleeg het.
Zhang moes loop nadat sy Sherly Jeudy neergevel het.
• Klik hier vir al die bepalings, uitslae en puntelys.
Daar was nie veel doelkanse in dié wedstryd nie, maar Haïti se Melchie Dumornay het meer slaankrag gebring nadat sy opgebring is.
Nérilia Mondesir het kort voor rustyd die bal in die net gehad, maar die doel is nie toegelaat nie omdat die speler in 'n onkantposisie was voordat sy die bal ontvang het.
Denemarke en China, wat albei drie punte het, sal nou baklei vir die tweede plek.
China het 'n groot uitdaging wat vir hom voorlê, want hy sal Engeland moet tem, terwyl Denemarke 'n beter kans staan om Haïti se tande te trek.





















