Daar is reeds sewe lang weke van hotelkamers en oefenvelde agter die Engelse span sedert hulle saamgetrek het om hul Wêreldbeker-avontuur te begin - en tog is daar geen tekens van kajuitkoors in hul geledere nie.
Gareth Southgate se span het eers op die plattelandse St. George's Park-oefensentrum en toe in die stil dorpie Repino, op die oewer van 'n meer 45 km buite St. Petersburg, begin bou aan hul droom.
En die stilte het hulle die wêreld se goed gedoen.

"Daar is baie gesê oor verveeld raak, maar dit het glad nie met ons gebeur nie," het die verdediger Ashley Young Maandag aan die media gesê.
"Dit voel eerder asof ons op 'n goeie vakansie is. En ons geniet elke oomblik daarvan.
"Daar is geen verveeldheid nie. Almal kom goed oor die weg, op en van die veld. As jy sulke spangees en samehorigheid weg van die veld af het, vat jy dit saam met jou op die veld. Die ondersteuners, die spanbestuur, die spelers - jy kan sien hoe almal saamtrek."
Terug in Engeland het dié span inderdaad die Engelse publiek se verbeelding aangegryp. Die "It's Coming Home"-mantra van die Euro96-kompetisie is op al meer hoopvolles se lippe, terwyl 'n groep jongelinge sonder skande of sukkel vir die eerste keer in 28 jaar die Wêreldbeker-halfeindronde gehaal het.
Dit is maklik om te verstaan waarom Engeland se sokkergeesdriftiges hul jong helde so omarm het. In spanoefeninge is hul entoesiasme en genot sedert die begin van die toernooi al duidelik te sien. Die spelers wat die media te woord staan, doen dit met 'n glimlag op die gesig. Die spelers hou hulle weg van die veld besig met "skoon" pret soos veerpyltjies en kegelbal.
Tog is dit 'n Wêreldbeker-halfeindstryd en spelers sal alles doen wat hulle kan, hul liggame op die spel sit, om te speel.
— Ashley Young
Die tyd toe spelers stug en onwillig was om met die media te praat, voel so lank terug soos toe klieks rondom klubspanne gevorm is en Engeland-pligte beskou is as iets wat die spelers maar moes verduur.
Young sê die FA (Engelse Sokkervereniging) se ondersteuningspan verdien groot krediet vir hoe aangenaam die spelers se aftyd was.
"Dis nie net die spelers of die (afrigters) nie, dis die mense agter die skerms ook. Hulle laat die hotel voel soos 'n tuiste, met foto's van ons families in die kamers en dinge om te doen."
Foto's van spelers wat in die hotelswembad baljaar en mekaar op opblaas-eenhorings rondjaag, dui daarop dat Young reg is. Dinsdag het hulle op die oefenveld rondgehardloop met plastiekhoenders van alle kleure - en dit duidelik geniet.
Daardie rustige en speelse atmosfeer lewer dividende, terwyl dié groep geskiedenis maak.
Hulle kom Woensdag te staan teen Kroasië, wat ná bykomende speeltyd en strafdoelstryde in albei hul laaste wedstryde redelik lam in die bene moet wees. Daar is ook onsekerheid oor die beskikbaarheid van hul doelwagter Danijel Subasic en die verdediger Sime Vrsaljko.

Voor Engeland lê 'n gulde geleentheid, soos Southgate in 'n onlangse onderhoud gesê het.
Maar Young sê hulle kan nie net op die energievlakke van hul teenstanders fokus nie.
"Veral fisiek is dit baie veeleisend om 120 minute in 'n wedstryd te speel en dan nog terug na jou basis te vlieg," het Young volgens The Guardian gesê.
"Ons het dit gevoel teen Colombia (teen wie 'n strafdoelstryd nodig was), maar hulle het dit nou twee keer gedoen, wat 'n tamaai voordeel vir ons kan wees.
"Tog is dit 'n Wêreldbeker-halfeindstryd en spelers sal alles doen wat hulle kan, hul liggame op die spel sit, om te speel. Dit gaan 'n taai wedstryd wees, so ons moet fisiek en sielkundig reg wees vir wat hulle na ons kant toe gaan gooi." - Reuters; Sportredaksie




















