Frankryk het Dinsdag in Adelaide die laaste Afrika-span uit die Wêreldbeker-sokkertoernooi vir vroue geskakel deur Marokko in die ronde van 16 met 4-0 te verniel.
Die span van Noord-Afrika was nooit in dié stryd nie, met die Franse span wat van die begin die druk toegepas het.
Frankryk het met die oorwinning 'n duidelike waarskuwing aan Australië, sy teenstander in die kwarteindronde, gerig.
Marokko is in die eerste helfte heeltemal oorskadu en was ná 23 minute reeds met 0-3 agter.
Kadiatou Diani het 'n sleutelrol vir die Franse gespeel. Sy het die eerste doel aangeteken en daarna die aanvoorwerk gedoen vir Kenza Dali se doel. Dit was ook die druk wat Diani op Nesryne El Chad geplaas het, wat gelei het tot die fout wat Eugénie Le Sommer in staat gestel het om die agterkant van die net te laat raas.
Diani het in die vorige wedstryd 'n driekuns teen Panama aangeteken.

Hevré Renard (afrigter) se span het geen genade betoon nie en die verdedigers van Marokko onder geweldige druk gehou. Frankryk se doelwagter, Pauline Peyraud Magnin, het in die eerste helfte maar 'n stillerige dag beleef.
Le Sommer het in die 70ste minuut weer die telbord aan die rol gekry met 'n kopskoot wat Khadija Er-Rmichi, doelwagter van Marokko, geen kans gebied het nie.
Hoewel die Franse span daarna sy voet van die versneller af gehaal het, kon Marokko nie 'n deurbraak bewerkstellig nie.
Die ander Afrika-spanne wat vroeër uitgeskakel is, is Zambië, Suid-Afrika en Nigerië.











