Wb Sokker

Skouspel in Rusland: Ge-Messi-meraais!

Sit 'n internasionale verdediging op die rand van pensioentrek teen een van die vinnigste tieners in wêreldsokker en die uitslag is voorspelbaar genoeg.

Maar Frankryk se wentelling van 4-3 oor Argentinië om na die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi in Rusland deur te dring, gee 'n idee van die drama in 'n skitterende wedstryd.

Die uitmuntende Kylian Mbappé het die Argentynse verdediging Saterdag oorhoops gehad met sy vaart en hulle binne 19 minute gedwing om twee vryskoppe en 'n strafskop af te staan - met twee geelkaarte daarby.

Antoine Griezmann het die strafdoel geskiet en Frankryk het so half op die agtervoet begin speel.

Lionel Messi is geneutraliseer in 'n span wat non-entiteite uit Argentynse klubsokker soos Enzo Pérez, Cristian Pavon en Maxi Meza ingespan het voor Europese supersterre soos Sergio Aguero, Paulo Dybala en Giovanni Lo Celso.

Einde van 'n droom . . . Die Argentynse superster Lionel Messi is 'n gebroke man nadat sy span gister deur Frankryk uit die Wêreldbekertoernooi geboender is.Foto: Getty Images
Einde van 'n droom . . . Die Argentynse superster Lionel Messi is 'n gebroke man nadat sy span gister deur Frankryk uit die Wêreldbekertoernooi geboender is.Foto: Getty Images

Hoewel hulle ná 'n halfuur amper 70% balbesit geniet het, het die Suid-Amerikaners in daardie stadium g'n enkele kans geskep nie.

ángel di María was weer vir die grootste gedeelte van die wedstryd 'n passasier, maar het die wedstryd net voor rustyd lewe gegee met 'n doel so reg uit die strokiesprente: 'n Veeg met die linkervoet wat die bal bo in die regterhoek geplant het.

Net ná die omdraaislag was Frankryk diep in die moeilikheid toe Argentinië so 'n willewragtig-poksdoel bêre: 'n Flouerige skoot van Lionel Messi het Gabriel Mercado getref toe dié vergeefs uit die pad probeer kom het, maar die defleksie fnuik toe vir Hugo Lloris liederlik.

Kylian Mbappé (19) was nog nie gebore toe Frankryk die Wêreldbeker in 1998 gewen het nie. Nou is hy 'n nasionale held. Foto: Reuters
Kylian Mbappé (19) was nog nie gebore toe Frankryk die Wêreldbeker in 1998 gewen het nie. Nou is hy 'n nasionale held. Foto: Reuters (Leanne Berries)

'n Franse span wat nog nooit werklik getoets is nie en tot dusver kwaai gekritiseer is, was teen die toue. Maar hulle het só goed reageer dat die wedsyfers op hulle oornag dramaties sou krimp.

Ná drie meestal lustelose vertonings in die groepfase het Frankryk uiteindelik gewys hoe gevaarlik hulle kán wees - en hul feesvierings was ewe skouspelagtig. Foto: Getty Images
Ná drie meestal lustelose vertonings in die groepfase het Frankryk uiteindelik gewys hoe gevaarlik hulle kán wees - en hul feesvierings was ewe skouspelagtig. Foto: Getty Images (Leanne Berries)

Eers het die indrukwekkende jong regterheelagter, Benjamin Pavard, die amperse foto-negatief van Di María se poging - regtervoet, linkerhoek - aangeteken en op 2-2 was die Argentynse veterane sigbaar minder geesdriftig.

Daarna het Mbappé die jongste speler geword wat 'n tweekuns in 'n Wêreldbekeruitspeelwedstryd kon behaal sedert Pelé ses dekades tevore.

Drie doele in 11 minute - as dit die vonk was wat die Franse potensiaal uiteindelik aan die brand gespeel het, kan hulle 'n ent vorder in dié toernooi.

Argentinië het 'n laaste wanhopige opflikkerinkie belewe. Aguero, op as plaasvervanger vir Pérez, het 'n lieflike Messi-aangee ingesit om die wedstryd enduit aanskoulik te hou. Maar vir Messi was dié toernooi nogmaals 'n teleurstelling.

Op 31 het hy nog één kans om dalk glorie te proe, maar dan benodig hy beter kollegas en bestuurders as wat tot dusver sy bittere lot was.

  • Ná Saterdag se kragmetings, wat moeilik was om vooraf te voorspel, lyk dinge vandag en môre meer voor die hand liggend. Spanje behoort te veel skietgoed te hê vir Rusland en Kroasië vir Denemarke.

Môre is Brasilië groot gunstelinge teen Mexiko. En as Japan vir België troef in die ander uitspeelwedstryd, sal dit die grootste skok wees in 'n toernooi propvol skokke.

Dis egter die punt tot dusver: Enigiets is moontlik.

Die beste voorspelling Dinsdag vir Switserland teen Swede is dat dit 'n vervelige wedstryd sal wees. Switserland is met 'n kortkop die gunsteling.

Engeland teen Colombië kan egter poppe sien dans, met Engeland wat die wedders dalk net-net meer opgewonde sal maak as James Rodríguez nie kan speel nie.

WB-bepalings

WB-puntelys

WB-uitslae

Louis de Villiers

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM