Die harde werk vir Suid-Afrikaanse vrouesokker begin nou, want die nasionale afrigter, Desiree Ellis, en Banyana Banyana het die grondslag gelê vir selfs groter dinge in die toekoms.
Suid-Afrika het in sy tweede deelname aan die WB-toernooi in Australasië verras deur sy eerste wedstryd te wen en ook vir die eerste keer na die uitklopronde deur te dring.
Ellis het ná haar span se skitterende vertonings in Australasië gesê dit is nou tyd dat groot maatskappye en borge in die land begin om geld in vrouesokker te belê.
En een van die belangrikste dinge om nou reg te kry, is 'n beroepsliga vir vroue in die land. Daar word tans nog te veel aandag en geld bestee op die Suid-Afrikaanse Premierliga (vir mans) - en vrouesokker ly daaronder.
Dit is iets wat Ellis ná haar span se nederlaag in die ronde van 16 teen Nederland uitgewys het.
"Maatskappye in die land het die verantwoordelikheid om vrouesokker te ondersteun. Ek weet nie hoe daar verwag kan word dat ons moet presteer as daar nie geld ingepomp word nie," het Ellis gesê.
Suid-Afrika het tans 'n nasionale vroueliga, maar die meeste van die spelers wat aan dié liga deelneem, is amateurs. Spelers soos Banyana Banyana se doelwagter, Kaylin Swart, speel haar sokker vir die klub JVW Ladies FC in Gauteng, maar kan eers oefen nadat sy klaar gewerk het vir die dag.
Volgens Ellis is daar maatskappye wat bereid is om te help dat die nasionale span aan kompetisies soos die WB-toernooi deelneem, maar niks doen om te help dat die spelers in die aanloop tot die skouspel verbeter nie.

"Dit is nou die regte tyd vir hulle om groter bydraes te maak," sê sy.
Ná die goeie vertonings in die WB-toernooi is die verwagting dat die nasionale span nou talle uitnodigings sal kry om teen topspanne in die wêreld uit te draf.
Daar is reeds twee vriendskaplike wedstryde teen Amerika, wat Sondag in Australasië as wêreldkampioen onttroon is, beplan. Dié kragmetings sal in September in die VSA beslis word.
Daarna sal Ellis-hulle ook in Oktober in twee kwalifiseringswedstryde - om deelname aan volgende jaar se Olimpiese Spele in Parys - teen die Demokratiese Republiek Kongo te staan kom.
Die jaar word afgesluit met kwalifiseringswedstryde in November en Desember vir 2024 se Afrikabeker-toernooi in Marokko.
Suid-Afrika is die heersende Afrikabeker-kampioen.
Die verwagting is dat Ellis-hulle 'n heldeontvangs gaan kry wanneer hulle vandeesweek terugkeer Suid-Afrika toe. Die spelers kan ook almal reuse-prysgeld en bonusse verwag, met die wêreldliggaam, Fifa, wat reeds aangedui het dat elke speler wat aan die ronde van 16 deelgeneem het, R1,1 miljoen ryker sal wees.
Die Motsepe-stigting het ook belowe dat elk van die spelers 'n goeie bonus kan verwag vir deelname aan dié WB-toernooi. Na verneem word, is daar nog 'n borg wat ook aangedui het dat hy geld beskikbaar gaan stel indien Banyana Banyana verby die groepfase vorder.





















