Wb Sokker

Jong Mbappé mesmeraais Argentyne

Hy was nog nie eens gebore toe Frankryk 20 jaar gelede die Wêreldbeker die eerste keer gewen het nie, maar Kylian Mbappé kan 'n baie groot rol speel om te bepaal wie vanjaar as sokker se wêreldkampioen gekroon gaan word.

Die vreugde is duidelik te lees op die gesig van Kylian Mbappé nadat hy Saterdag in Kazan die eerste van sy twee doele in die Wêreldbekerwedstryd teen Argentinië aangeteken het.   Foto: Reuters
Die vreugde is duidelik te lees op die gesig van Kylian Mbappé nadat hy Saterdag in Kazan die eerste van sy twee doele in die Wêreldbekerwedstryd teen Argentinië aangeteken het. Foto: Reuters

Die 19-jarige Mbappé was Saterdag in Kazan Frankryk se grootste ster in die sege van 4-3 oor Argentinië in die eerste dramatiese en opwindende uitklopwedstryd in die tweede ronde van die Wêreldbekertoernooi.

Dit was Frankryk se eerste Wêreldbekersege ooit oor Argentinië en met die Argentyne wat nou uitgeskakel is, beteken dit dat nie een van die twee spanne wat vier jaar gelede in die eindstryd gespeel het verder aan die toernooi deelneem nie.

Duitsland, wat Argentinië in 2014 in die eindstryd geklop het, het nie die eerste ronde oorleef nie.

Terwyl die aandag Saterdag op wêreldsokker se groot sterre en peperduur spelers soos Lionel Messi (Argentinië) en die Fransmanne Paul Pogba en Antoine Griezmann was, het Mbappé as't ware die kollig gesteel.

Mbappé, die eerste speler wat ná 1998 se Wêreldbekertriomf gebore is wat virLes Blues speel, het die Argentyne reeds vroeg met sy verbysterende vaart onkant betrap.

Hy het in die 11de minuut op 'n lopie van goed 70 meter afgesit en die Argentynse verdedigers kon eenvoudig nie byhou nie. Marcos Rojo, wie se doel vier minute voor die einde teen Nigerië verseker het Argentinië dring tot die tweede ronde deur, het Mbappé eers in die strafgebied ingehaal en onwettig neergevel.

Griezmann het die telling 1-0 gemaak met die daaropvolgende strafdoel, die 25ste van die toernooi.

Agt minute later het Mbappé die Argentyne weer 'n vryskop laat afstaan en Griezmann se doelpoging het die Argentynse doelhok geskud nadat dit die dwarslat getref het.

Argentinië het deurentyd die meeste besit gehad, maar kon nie veel daarmee uitrig nie. Die Argentyne se beheer en verspreiding was swak, besit is gereeld afgestaan en dwars- en hoekskoppe was maar power.

Die wedstryd het skielik lewe gekry vier minute voor rustyd toe albei straks al aan die blaaskans gedink het.

Argentinië se Angel Di María het die bal sowat 30 meter van die Franse doelhok voor die voete gekry en doodluiters losgetrek met 'n kanonskoot in die ware sin van die woord. Hugo Lloris, Frankryk se kaptein en doelwagter, het geen kans gehad om dit te keer nie.

Argentinië het drie minute ná rustyd die voortou geneem toe Gabriel Mercado ná 'n vryskop 'n doelpoging van Messi in die Franse doelhok afgekeer het.

Die telling was in die 57ste minuut weer gelykop toe die Franse verdediger Benjamin Pavard met 'n langafstand-doelpoging van buite die strafgebied losgetrek het om te vergoed vir die vryskop wat hy afgestaan het wat tot die tweede Argentynse doel gelei het.

Mbappé was daarna weer die middelpunt van die aksie toe hy in die 64ste en 68ste minuut doele aangeteken het.

Sy eerste het gevolg nadat die bal in die Argentynse strafgebied losgespat en voor sy voete beland het.

Die tweede het gevolg op een van die beste bewegings in die toernooi tot dusver. Die Franse het vanuit hul eie strafgebied aangeval en met net vyf aangeë die bal tot by Mbappé gekry, wat Franco Armani, doelwagter van Argentinië, maklik geklop het.

Argentinië het nooit opgegee nie, maar die plaasvervanger Sergio Agüero se doel ná 'n perfekte aangee van Messi in die derde minuut van beseringstyd was net té laat.

Humeure het gereeld gedreig om handuit te ruk en agt geelkaarte (vyf vir Argentinië en drie vir Frankryk) is uitgedeel.

Die middelveldspeler Blaise Matuidi het een van dié kaarte gekry en sal Frankryk se kwarteindstryd teen Portugal of Uruguay misloop.

Maar soos die Franse Saterdag gespeel het, sal Matuidi se afwesigheid hulle nie juis ontwrig nie.

Hulle was bra louwarm in die groepfase, maar het Saterdag in een van die beste wedstryde in vanjaar se toernooi teenstanders gewaarsku dat hulle warm is - vuurwarm.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM