Die Engelse doelwagter Jordan Pickford sê hy het sy navorsing oor Colombia gedoen en dat sy "krag en ratsheid" gehelp het om Carlos Bacca se strafskop te keer in 'n naelbyt-strafdoelstryd wat Engeland Dinsdagaand met 4-3 gewen het.

Met dié naelskousege het Engeland sy plek in Saterdag se kwarteindstryd teen Swede beklink.
Pickford, wat vir Everton in die Engelse Premierliga speel, is gekritiseer nadat hy Adnan Januzaj se wendoel deurgelaat het in die groepfase toe hulle met 0-1 teen België verloor het. Sy Belgiese eweknie, Thibaut Courtois (1,99 m en 91 kg), was een van die kritici en het gesê Pickford (1,85 m en 77 kg) is te klein om 'n top- internasionale doelwagter te wees.
Maar Pickford het ná die sege oor Colombia laaste gelag.
"Ek het baie navorsing oor hulle gedoen. Ek is kragtig en is rats," het Pickford aan ITV gesê.
"Ek gee nie om dat ek nie die grootste doelwagter is nie, want dit gaan daaroor om op die regte plek op die regte tyd te wees en ek was daar," het hy gesê met verwysing na die strafskop wat hy uit die doelhok gehou het.
- AFP
Uitklopwedstryde: Bepalings en uitslae





















