Kroasië het Denemarke Sondagaand in 'n dramatiese strafdoelstryd met 3-2 geklop om tot die kwarteindronde van die Wêreldbeker-toernooi deur te dring.

Danijel Subašic, Kroasië se doelwagter, het drie van die Deense strafdoelpogings gekeer nadat hy voor die strafdoelstryd vir hom 'n paar vars handskoene in die kleedkamer gaan haal het.
Kasper Schmeichel, die Deense doelwagter, het self twee strafdoelpogings gekeer. Maar met die vyfde van Ivan Rakitic had hy geen raad nie.
As dit nie vir Schmeichel se keerwerk was nie, sou die strafdoelstryd in die wedstryd in Nixhny Novgorod nie eens nodig gewees het nie.
Hy het in die 116de minuut 'n strafdoelpoging van Luka Modric, Kroasië se kaptein, gekeer om Denemarke nog vir 'n rukkie in die Wêreldbeker-toernooi te hou.
Modric was dapper genoeg om Schmeichel in die strafdoelstryd weer aan te durf en dié keer het die klein Kroaat geen fout begaan nie.

Kroasië sal Rusland ná sy naelskraapse sege Saterdag in die een kwarteindstryd pak. Die Russe het Spanje vroeër Sondag geskok deur met 4-3 in 'n strafdoelstryd te seëvier nadat die telling ná 120 minute 1-1 was.
Optimistiese ondersteuners sou verskoon kon word as hulle ná 58 sekondes van die kragmeting tussen Kroasië en Denemarke gedink het dié wedstryd gaan binne 90 minute beslis word en dat 'n doelefees straks wag.
Denemarke se Mathias Jørgensen het 'n effense chaos voor die Kroasiese doelhok ná 'n lang ingooi van Jonas Knudsen uitgebuit om sy eerste doel vir sy land aan te teken nog voordat 'n minuut verby was.
Denemarke se voorsprong het egter net 1 minuut en 52 sekondes gehou voordat Mario Mandžukic met Kroasië se eerste aanval toegeslaan het toe Denemarke se verdedigers nie die bal uit hul strafgebied kon wegkry nie.

Daarna het die ondersteuners vir langer as twee uur vergeefs op 'n volgende doel gewag.
Die twee spanne het goed teen mekaar opgeweeg en nie een het soos in die vroeëre wedstryd tussen Spanje en Rusland die spel heeltemal oorheers nie.
Albei spanne het in die eerste helfte doelkanse verspeel en ná 'n redelike stil tweede helfte was daar teen die einde en in bykomende tyd weer 'n klompie geleenthede wat nie gebruik is nie.
Maar dit was nie die aand van die doelskieter nie. Dit was die aand van die doelwagter.




















