Joachim Löw gaan in sy pos as afrigter van Duitsland se sokkerspan aanbly, ten spyte daarvan dat die Duitsers nie die groepfase van die Wêreldbeker-toernooi in Rusland oorleef het nie.
Die Duitse Sokkervereniging (DFB) het dit Dinsdag bevestig.

Löw (58), wat al sedert 2006 die span afrig, het sy kontrak 'n maand gelede tot 2022 verleng.
Duitsland het in sy laaste vier verskynings in die Wêreldbeker minstens die halfeindronde gehaal en in 2014 die toernooi gewen.
"Ek beleef ten spyte van die regverdige kritiek vir ons vertoning tog baie ondersteuning en bemoediging.
"Ek wil nou al my aandag daarop fokus om die span weer op te bou," sê Löw.
Die legendariese Diego Maradona, wat Argentinië op die veld en as afrigter verteenwoordig het, het intussen aangebied om die Argentyne gratis af te rig.
Maradona (57) het in 'n televisieonderhoud gesê: "Ek sal dit verniet doen".
Dit nadat Frankryk die Argentyne in die tweede ronde met 4-3 geklop het.
Maradona het Argentinië in die 2010 Wêreldbeker-toernooi in Suid-Afrika afgerig, toe Duitsland hulle met 4-0 in die kwarteindronde geklop het.
Sedert sy tyd as afrigter van Argentinië tot 'n einde gekom het, het hy twee klubspanne in die Verenigde Arabiese Emirate afgerig.
Hy was verlede week in die nuus toe hy middelvingers vir toeskouers gewys het toe Argentinië Nigerië geklop het.
"Mense dink ek is gelukkig, maar my hart is seer. Ek voel regtig sleg dat alles wat ons met soveel moeite opgebou het, so maklik vernietig is," sê Maradona - BBC, theguardian.com, Reuters,




















