Die Engelse vrouesokkerspan het met sy oorwinning Saterdag in Sydney oor Colombia in die kwarteindstryd van die Wêreldbekertoernooi vir vroue gewys hy is 'n ernstige aanspraakmaker op sy eerste WB-titel.
Maar nóú wag die gedugte Australiese Madildas Woensdag in die halfeindronde in Sydney.

In die ander halfeindstryd sal Spanje en Swede mekaar op Eden Park in Auckland, Nieu-Seeland, die stryd aansê om te bepaal wie op 20 Augustus in die eindstryd in Sydney sal uitdraf.
Dié toernooi in Australasië het tot dusver groot verrassings opgelewer - en nie een van die groot gunstelinge, insluitend Amerika, Brasilië, Duitsland en Kanada, kon die vurige aanslag oorleef nie.
Die Engelse word, vanweë hul status in wêreldsokker, as die gunsteling beskryf. Sarina Wiegman (afrigter) se span is die huidige Europese Beker-kampioen.
Engeland moes in die twee vorige rondes diep krap om onderskeidelik met Nigerië (ronde van 16) én Colombia (kwarteindronde) deur te dring.
Die geluksgodin was beslis tot dusver aan die Engelse se kant - en dít, met talent en goeie beplanning, is wat benodig word om in dié groot toernooie sukses te behaal.
Engeland sal steeds sonder die geskorste Lauren James moet klaarkom, aangesien sy eers weer vir die eindstryd (as Engeland deurdring) oorweeg kan word.
Die Aussies, wat in die kwarteindronde met Frankryk ná 'n strafdoelstryd klaargespeel het, sal weer deur hul vurige tuisskare aangevuur word.
Met die tuisspan se groot ster, Sam Kerr, wat nou haar besering afgeskud het en weer sake op die speelveld dikteer, kan die Matildas beslis nie afgeskryf word nie.
'n Volgepakte Stadium Australia in Sydney sal beslis die lewe moeilik maak vir die Engelse.
Swede is die span onder die laaste vier met die beste posisie op die wêreldliggaam, Fifa, se ranglys. Die Swede is nommer drie, een posisie bo Engeland, met Spanje in die sesde plek en Australië tiende.

Swede het die toernooi stadig begin, maar met 'n indrukwekkende oorwinning in die kwarteindronde teen Japan gewys dat hy groot planne vir dié toernooi het.
Die Spanjaarde, gelaai met spelers van Barcelona en Real Madrid, speel indrukwekkende sokker, maar is in een van die groepwedstryde lelik deur Japan uitgewys as 'n span wat geklop kan word.
In die kwarteindronde teen Nederland het die Spanjaarde een van hul beste vertonings gelewer en gewys dat hulle beslis gereed is om hul naam vir die eerste keer op die Wêreldbeker te kry.
Die Sweedse spelers is op hul beurt groot en sterk en weet nie van die handdoek ingooi nie. Met die lenige verdediger Amanda Ilestedt een van die topdoelskieters in dié WB-toernooi, kan dié span beslis nie afgeskryf word as moontlike kampioen nie.
Die span het in Zecira Musovic ook een van die uitstaande doelwagters in dié toernooi.
Die vorige ronde het gewys dat niemand in die toernooi afgeskryf kan word nie en die enigste iets wat met sekerheid gesê kan word, is dat daar 'n nuwe naam op die trofee gaan pronk ná volgende week se eindstryd.











