Frankryk se droom om Europa se tweede land te word en slegs die derde ter wêreld om die Wêreldbeker-sokkertoernooi agtereenvolgens te wen, brand nog hoog.
Die verdedigende kampioen het Denemarke Saterdagaand met 2-1 geklop om onoorwonne in hul groep te bly. Dié sege het ook hul plek in die laaste 16 van die toernooi verseker met nog een groepstryd oor teen Tunisië.
Denemarke en Australië sê mekaar vandeesweek die stryd aan met die Dene wat ’n sege benodig om ’n kans te staan om die laaste 16 te haal.
Dit het egter 60 minute se sokker geneem, met ’n hele paar verbroude doelpogings, vir die Franse om die voortou te neem.
Kylian Mbappé, Antoine Griezmann, Raphaël Varane, Olivier Giroud en Adrien Rabiot het almal doelpogings gehad wat gestuit is.
Dit was egter net ’n kwessie van tyd voor die Franse, met die druk wat hulle toegepas het, ’n gaping in die Deense verdediging sou vind.
En danksy hul spoed op die punte, het die kwiksilwer Mbappé ’n dodelike teenaanval uit hul doelgebied met sy regtervoet verby Kasper Schmeichel, Denemarke se doelwagter, geskop.
Hy het puik met die verdediger Lucas Hernandez aan die linkerkant gekombineer om met spoed deur te kom.
Agt minute later het die Dene egter hul eie deurbraak gemaak.
Daardie doel van Frankryk het hulle nie laat terugsit om te verdedig nie.
Met die Manchester United-middelveldspeler, Christian Eriksen, aan die spits, het hulle die Franse doelwagter, Hugo Lloris, met pogings gepeper.
Andreas Christiansen kon uiteindelik by ’n dwarskop uitkom om die bal met mening in Lloris se doelhok te bêre.
Met die telling 1-1 het sake wipplank gery soos die twee spanne ’n opening vir die wenner gesoek het.
Lloris moes ’n paar keer bontstaan om die Dene uit te hou, terwyl Schmeichel aan die ander kant van die veld ook sy keer moes ken.
Die damwal het uiteindelik aan Schmeichel se kant gebreek toe Mbappé in die 86ste minuut sy tweede doelskop aangeteken het.
Hy het oral in Denemarke se doelgebied opgeduik toe sy span daardie wenner gesoek het en uiteindelik ’n dwarskop van Griezmann in die net gebêre.















