Argentinië is steeds op koers om vir die tweede keer agtereenvolgens die Wêreldbeker-sokkertitel te verower.
Lionel Messi (kaptein) en sy spanmaats moes Woensdagaand in Atlanta eers ’n agterstand uitwis voordat hulle Engeland in die halfeindronde met 2-1 kon klop.
Spanje wag nou in Sondag se eindstryd in New York.
Die Suid-Amerikaners het verdien om dié stryd te wen, veral nadat hulle in die tweede helfte groot druk op Engeland geplaas het.
Die wendoel is in die doodsnikke deur Luataro Martinez aangeteken ná ’n skitterende aangee van Messi.
Die Argentynse kaptein het ook ’n groot rol gespeel in die gelykmaker, wat deur Enzo Fernandez aangeteken is.
Die eerste helfte was ’n vurige affêre, waar nie een van die spanne bereid was om enigiets weg te gee nie. Daar was nie juis enige doelkanse nie, met albei spanne se verdedigingslinies wat hul werk goed gedoen het.
Die gevaarlike Messi het nie veel kans gekry om sy gehalte te toon nie. Daar was net een keer waar die Argentynse kaptein werklik gevaarlik voorgekom het met die bal aan sy voete. Hy het drie Engelse spelers afgeskud, voordat Elliot Anderson hom grond toe gebring het.

Aan die Engelse kant is Harry Kane nie veel beweegruimte gegun nie, maar Jude Bellingham het ’n paar keer gevaarlik gelyk wanneer hy in besit was.
Talle bewegings is met vuilspel gestuit en die skeidsregter, Ismail Elfathi, moes omtrent sy storie ken. Die Amerikaner het altesame 19 vryskoppe toegeken en eers laat in die helfte Anderson van Engeland en Lisandro Martínez van Argentinië met geel kaarte gestraf.
Toe die spanne gaan rus het, was daar nog geen duidelikheid oor wie Spanje in die eindstryd sou aandurf nie.
Engeland het vroeg in die tweede helfte die voortou geneem nadat Anthony Gordon goed afgerond het.
Dié doel het egter net daarin geslaag om die Argentyne wakker te skud. En toe Messi eers sy momentum gekry het, was daar geen kans vir die Engelse nie.
Engeland het kliphard verdedig, maar die Argentyne het met die een aanval ná die ander vorendag gekom. Toe Argentinië sy eerste doel aangeteken het, was daar net een span wat dié wedstryd kon wen.
En in die 92ste minuut het die Suid-Amerikaners die wendoel aangeteken.– natheer.marshall@24.com
3878
















