Wb Sokker

Ronaldo breek Marokkaanse harte

En daar word nog 'n span ge-Ronaldo!

In die sewende hemel . . . Cristiano Ronaldo het Woensdag teen Marokko net vier minute nodig gehad om sy vierde doel van die Wêreldbeker-toernooi aan te teken. Foto: Reuters
In die sewende hemel . . . Cristiano Ronaldo het Woensdag teen Marokko net vier minute nodig gehad om sy vierde doel van die Wêreldbeker-toernooi aan te teken. Foto: Reuters

'n Dapper en gewillige Marokko het sy Wêreldbeker-veldtog Woensdagmiddag in Moskou se Luzhniki-stadion in vlamme sien opgaan, toe hy met 1-0 deur Portugal verslaan is in sy tweede groepwedstryd in Rusland.

Die Marokkaanse sokkerspan was vir groot dele van dié opwindende wedstryd die beter span: giftiger op die teenaanval, gevaarliker in besit en takties slimmer as sy Portugese teenstanders. Maar dit was pure verniet, met swak afronding, die ratsheid van die Portugese doelwagter, Rui Patricio, en die skerp oë van die doelevraat Cristiano Ronaldo, wat saamgesweer het om sy doppie te klink.

Ronaldo, die enigste van die supersterre by die toernooi wat tot dusver op alle silinders gevuur het, het reeds in die vierde minuut Marokkaanse harte gebreek, toe hy die bal van 'n hoekskop af met sy kop die doelhok ingestuur het.

Daardie doel was sy vierde van die kompetisie, nadat hy ook verlede week in sy span se gelykop-uitslag teen Spanje drie aangeteken het.

Steeds is hy die enigste Portugees by die Wêreldbeker-toernooi met doele agter sy naam. Dit het Portugal se reputasie van 'n "eenman-span" waarskynlik versterk, maar dit sal die Europese kampioen in dié stadium geen bloue duit skeel nie.

Portugal se William Carvalho probeer die bal wegsteel voor die Marokkaan Younes Belhanda. Foto: Reuters
Portugal se William Carvalho probeer die bal wegsteel voor die Marokkaan Younes Belhanda. Foto: Reuters

Terwyl Ronaldo die kollig met sy doel gesteel het, moet Patricio se bydrae nie misgekyk word nie.

Marokko het sewe hoekskoppe gehad en 'n yslike 14 balle in die doelwagter se rigting gelanseer. Maar Patricio het nooit gevou nie.

Vir die Noord-Afrikane is daar nou geen meer hoop op kwalifikasie vir die uitspeelrondes nie, nadat hulle ook verlede week teen Iran verloor het. Soos Woensdag teen Portugal het hulle toe ook meer balbesit gehad en meer kanse geskep, maar aan die agterspeen gesuig.

Portugal, daarenteen, bly op koers - alles danksy die vasberadenheid van hul kaptein.

WB-bepalings

WB-puntelys

WB-uitslae

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM