Vanjaar se Sokkerwêreldbeker was veel meer as 'n maand lange fees van doele. Dit was vir baie 'n nuwe begin, maar daar is ook lewenslange drome begrawe.
"Dit is die beste Wêreldbeker tot nog toe," het Gianni Infantino, Fifa se president, oor vanjaar se skouspel in Rusland gesê.
Daar is baie bewyse om sy mening te staaf.

Rusland, die gasheerland, het die toernooi gebruik om sy internasionale beeld te poets en stereotipes oor die land die nekslag toe te dien.
Die Russiese span, wat 70ste op die Wêreldranglys is, het ook met vlieënde vaandels geslaag nadat hy in die nege maande voor die toernooi nie 'n enkele sege kon beklink nie. Die span het briljant vertoon en tot die kwarteindstryd deurgedring.
Kroasië het ook die eerste eindstryd in sy geskiedenis gehaal, 'n merkwaardige prestasie vir 'n land met sowat 4 miljoen mense. Die span se vorige beste vertoning was toe hy die halfeindstryd in 1998 gehaal het.
Die Kroate se vertoning het die hartsnare geroer. Hulle moes in al drie hul uitklopwedstryde 'n agterstand uitwis om te wen en het ongelooflike fiksheid en spangees getoon.
Rusland 2018 is egter ook die rusplek van talle drome, met van die grootste name in sokker wat skouspelagtig gestruikel het.
Duitsland, die verdedigende kampioen, is die vroegste in 80 jaar in die toernooi uitgeskakel toe hy onder in Groep F geëindig het nadat hy teen Meksiko en Suid-Korea verloor het.
Argentinië het deur die groepfase geskraap en met 3-0 teen Kroasië verloor en 1-1 teen Ysland gelykop gespeel. Lionel Messi was grootliks onsigbaar in die toernooi.
Neymar, die wêreld se duurste sokkerspeler, se aandele het ook getuimel toe sy span, Brasilië, in die kwarteindstryd deur België uitgeskakel is.
Al was Neymar ongetwyfeld in die visier van robuuste verdedigers, het sy oordadige en teatrale geduik en gerol op die gras ondersteuners geamuseer, maar ook woedend gelaat. Die Brasiliaan was die onderwerp van verskeie snydende memes.
In die geheel was dit egter 'n goeie toernooi met die skeidsregters wat ook uitstekend vertoon het. Daar is tot dusver in die toernooi slegs vier rooikaarte uitgedeel. Dit is die minste sedert 1978.
Die vrese oor die gebruik van videoskeidsregters (VAR) het ook geblyk om misplaas te wees. Dit het nie die ritme van die spel verbreek nie, maar eerder enige kullery uitgeskakel.
"Dit is vooruitgang en beter as in die verlede," het Infantino gesê.
"VAR is nie besig om sokker te verander nie, dit maak sokker beter. Dit maak sokker 'n eerliker en meer deursigtige sportsoort, en help skeidsregters om die regte besluite te neem." - Reuters




















