Wb Sokker

Stryd van die groot kanonne in WB-eindstryd

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Twee van die sleutelspelers in Sondag se WB-eindstryd – links is Kylian Mbappé en regs Lionel Messi. Foto: Getty Images
Twee van die sleutelspelers in Sondag se WB-eindstryd – links is Kylian Mbappé en regs Lionel Messi. Foto: Getty Images

Ná 'n fassinerende maand vol verrassings, waarin verskeie astrante buitestanders gedreig het om sokker se status quo omver te werp, is daar 'n familiêre gevoel aan Sondag se Wêreldbeker-eindstryd in Katar met Argentinië wat Frankryk die stryd gaan aansê.

Albei dié spanne het die beker al twee keer gewen en Frankryk is die verdedigende kampioen.

Dit voel nou asof dit baie lank gelede was dat Saoedi-Arabië een van die grootste skokke in WB-geskiedenis veroorsaak het deur Argentinië te klop.

Frankryk was self baie verleë om teen Tunisië te verloor, hoewel die Franse daardie dag nie hul beste spelers ingespan het nie.

Argentinië het herstel om bo-aan sy groep te eindig en toe het die span 'n paar benoude oomblikke oorleef voordat hy Australië in die ronde van 16 met 2-1 kon klop.

Die kwarteindronde het drama verskaf toe die Argentyne 'n voorsprong van 2-0 weggesmyt en gelykop teen Nederland geëindig het. Die telling ná bykomende speeltyd was steeds 2-2.

'n Strafskopstryd het gevolg voordat Lionel Messi se Argentyne na die halfeindronde kon deurdring.

In die halfeindronde het Messi-hulle behoorlik op dreef gekom en die knap span van Kroasië, wat Brasilië uitgeskakel het, uit die pad gevee.

Frankryk het in sy eerste twee wedstryde na die beste span op die toernooi gelyk voordat hy teen Tunisië gegly het.

Die Franse het egter opgestaan en Pole in die ronde van 16 met 3-1 verniel en toe vir Engeland in die kwarteindronde met 2-1 uitgeskakel.

Marokko het in die halfeindronde goeie teenstand gebied, maar dit het nooit regtig gelyk of die span van Noord-Afrika Frankryk sou skok nie.

Natuurlik sal dit Sondag in die Lusail-stadion in Doha nie saak maak wat in die vorige ses wedstryde gebeur het nie.

Vir die meeste mense is die groot storie sekerlik of Messi in sy vyfde probeerslag eindelik die Wêreldbeker sal kan lig.

As hy dit kan regkry, sal hy sy plek langs die legendariese Diego Maradona in Argentyne se harte kan inneem.

Messi het dalk nie so 'n emosionele impak op die span gehad soos Maradona in 1986 nie, maar hy het deur die jare al talle briljante oomblikke op die veld gelewer.

Die eindstryd sal Messi se 26ste verskyning in 'n WB-wedstryd wees ('n rekord) en 'n mens sou dink alles dui op 'n sprokieseinde vir die Argentynse superster.

Frankryk se spelers sal hulle egter nie aan 'n Hollywood-einde, waarin Messi die hoofakteur is, steur nie.

Frankryk het uitstekende verdedigers wat maar alte goed weet dat hulle vir Messi, wat die vermoë het om onverwags toe te slaan, moet dophou.

In Kylian Mbappé, Olivier Giroud en Antoine Griezmann het die Franse darem self ook spelers wat baie goed weet waar hul teenstanders se doelhok is.

Antoine Griezmann (voor) in die Wêreldbeker-halfeindstryd teen Marokko in aksie.  Foto: Reuters
Antoine Griezmann (voor) in die Wêreldbeker-halfeindstryd teen Marokko in aksie. Foto: Reuters

Mbappé en Giroud het tussen hulle reeds nege doele in Katar aangeteken, maar kenners is veral oor Griezmann se spelpeil gaande.

Griezmann, wat in sy 74ste agtereenvolgende wedstryd vir sy land sal speel, is die man wat vir sy spanmaats kanse skep om doele aan te teken met sy akkurate aangeewerk.

Argentinië, wat in 2014 teen Duitsland in die eindstryd verloor het, was in 1978 en 1986 die kampioen.

Frankryk was in 2018 en in 1998 die kampioen. As die Franse Sondag weer wen, sal hulle hulle by Italië en Brasilië aansluit as die enigste spanne wat al hul WB-kroon suksesvol kon verdedig. Italië het dit in 1938 vermag en Brasilië in 1962.

• Marokko en Kroasië pak mekaar intussen Saterdag in die uitspeelwedstryd om die derde plek.

Vir Marokko is dit 'n geleentheid om nog verder te bou op 'n ongelooflike vertoningslys waarin die span die wêreld se verbeelding aangegryp het.

Die wedstryd sal na verwagting ook Kroasië se veteraan-middelveldspeler Luka Modric se laaste een wees voordat hy sy stewels wegpak.

• Eindstryd se afskoptyd Sondag: 17:00; regstreeks op DStv-kanaal 202. - Reuters

Vinnige feite oor die eindstryd:

• Argentinië speel Sondag in sy sesde WB-eindstryd. Hy het in 1978 en 1986 oorwinnings behaal, maar in 1930, 1990 en 2014 se eindstryde verloor.

• Argentinië se nederlaag teen Saoedi-Arabië in die groepfase was sy enigste in sy afgelope 42 wedstryde.

Argentinië se 12 doele sover in Katar is sy meeste sedert die 1986-toernooi in Mexiko, toe hy 14 aangeteken het.

Frankryk speel in sy vierde WB-eindstryd. Hy was in 1998 en 2018 aan die wenkant, maar het 2006 se eindstryd verloor.

• Frankryk en Argentinië het al drie keer vantevore in WB-toernooie kragte gemeet. Argentinië was in 1930 en 1978 baas, maar die Franse het hul laaste WB-ontmoeting in 2018 in Rusland met 4-3 gewen.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM