Wb Sokker

WB-spanning te veel vir Engelse premier

Die Britse premier, Theresa May, het nie kans gesien om die senutergende laaste oomblikke van Engeland se Wêreldbeker-strafdoelstryd teen Colombia dop te hou nie.

Die Britse premier, Theresa May, Dinsdag in Londen. Foto: Reuters
Die Britse premier, Theresa May, Dinsdag in Londen. Foto: Reuters

Engeland het dié stryd van die strafmerkie af met 4-3 gewen en sodoende sy plek in die kwarteindronde van die sokkerskouspel in Rusland bespreek. Dit was die eerste keer dat die Engelse 'n strafdoelstryd in dié toernooi kon wen.

Maar vir May, leier van 'n regering wat vasgevang is in die mees komplekse onderhandelinge sedert die Tweede Wêreldoorlog (Brittanje se onttrekking aan die Europese Unie), was die spanning in Moskou se Spartak-stadion een te veel.

"Sy het vroeër gesê sy sukkel om strafdoelstryde dop te hou, want haar senuwees kan dit nie hou nie," het 'n woordvoerder van May gesê.

Die Britse leier het vroeër in die parlement Engeland se sege as "baie raar en 'n welkome gebeurtenis" beskryf.

Die opposisie, die Arbeidersparty, het ook munt geslaan uit die Engelse sege en aanbeveel dat die ganse Brittanje 'n vakansiedag moet kry indien Engeland die toernooi wen.

* Die uitgesproke Argentynse ikoon Diego Maradona het nie die Engelse se vreugde gedeel nie en gesê Colombia is op "monumentale wyse" beroof.

Volgens hom was die skeidsregter, Mark Geiger, nie opgewasse om só 'n hoëvlak-wedstryd te hanteer nie.

Maradona sê die Amerikaanse blaser moes byvoorbeeld eerder vir Harry Kane, die Engelse kaptein, met 'n geel kaart gestraf het as om 'n strafskop teen Colombia toe te ken in Dinsdag se tweederonde-uitklopstryd.

Colombia het weliswaar in die doodsnikke 'n gelykmaker aangeteken, maar kon uiteindelik nie 'n vroeë voorsprong in die strafdoelstryd benut nie. - Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM