Stemme

Gert van der Westhuizen: Afrikaner-vrese só aangeblaas

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
x
x (x)

Die roekelose aanblaas van die wit Afrikaner-vervolgingswaan wat sedert die bewindsaanvaarding van pres. Donald Trump in Amerika met ons is, het ’n nuwe laagtepunt bereik.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, beweer op X en in ’n artikel mense wat lekkerkry oor die nederlaag van die hokvegter Dricus du Plessis is “anti-Afrikaanse rassiste”.

Dit bewys volgens Kriel dat Afrikaners, wit mense en ander minderhede “geteiken” word. “Ons hoef nie enigiemand in die wêreld langer van dié feit te probeer oortuig nie.”

’n Mens kan natuurlik anders kyk na diegene wat lekkerkry oor Du Plessis se nederlaag teen Khamzat Chimaev as om dit as rassisme te bestempel.

Daar is baie in Suid-Afrika wat hulle nie aan Du Plessis steur nie.

Vir hulle is die barbaarse hokvegtery wat aan die bloederige spektakels van die lank vergane Romeinse Ryk herinner nie naastenby so belangrik soos die vordering van hul sokkerspanne in die Engelse of Spaanse ligas nie.

Onder hulle tel wit Afrikaners wat ook bekommerd is oor alles wat die ANC-regering doen (of nie doen nie).

Daar moet onthou word dat Du Plessis van homself ’n verdelende figuur gemaak het met sy smalende uitlatings oor die regering wat volgens hom verreweg die swakste in die wêreld is.

“Niemand kan met hulle meeding nie. Ons is werklik (vloekwoord wat gesensor is) uitnemend,” het Du Plessis in ’n onderhoud gesê.

Wat hom verder van baie Suid-Afrikaners – ook wit Afrikaners – vervreem het, was sy openbare aanhang van Trump. Hy het Trump geloof en gespog dat dié van kampioene soos hy hou.

Trump is ’n uiters verdelende man wat die onstabiele wêreldorde verder omkrap, lande boelie, derduisende mense in Suid-Afrika hul werke kan kos, al hoe meer na fascisme neig en deur baie as aandadig beskou word aan die doodmaak en verhongering van vroue en kinders in Gasa. Dit word volgens sy teenstanders moontlik gemaak deur sy steun aan die verregse Israeliese regering wat onskuldige mense met Amerikaanse wapens om die lewe bring.

Al hoe meer mense in Suid-Afrika, ook wit mense en Afrikaners, spreek hul teenkanting uit teenoor dit wat in Gasa gebeur en wat hulle sien as die Trump-regering se rol daarin.

’n Wit Afrikaanse kommentator het al na Du Plessis verwys as die Make America Great-aanhangers in Suid-Afrika se “nuttige idioot”.

Om dus mense wat lekkerkry oor Du Plessis se nederlaag as “anti-Afrikaanse rassiste” uit te kryt, is verkeerd.

Hulle is dalk eerder onsportief.

Moenie diegene deel maak van die ongesonde Trump-narratiewe en gevaarlike politieke speletjies nie.

Dit is ook duidelik uit die aanblaas van die vervolgingswaan en slagofferskap soos met die Du Plessis-geval, dat sommige ná 30 jaar nog nie vrede gemaak het met wit magsverlies nie.

Dit verduidelik hul onverdraagsaamheid teenoor enigiemand wat anders dink, die alewige soeke na sondebokke soos Roelf Meyer, ja-stemmers en joernaliste, en die absolute toondoofheid vir ander in die land se gevoel jeens Trump, die mense van Gasa en die nalatenskap van apartheid.

Dalk moet hulle soms eerder probeer om uit die versmorende eggokamers van regse webwerwe en sosialemediaplatforms te ontsnap, na ander te luister en met ander te praat, ook oor hul eie trauma weens magsverlies.

Mense sal luister.

Dit is beter as om in jou eie hoekie te sit, vir ander tong uit te steek en te sê: “Wê, wê, wê, wê! Trump is tog aan ons kant!”

• Van der Westhuizen is Netwerk24 se politieke redakteur. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM