Louisemarié Combrink skryf oor die Surrealisme wat vanjaar 'n eeu oud is.

As ons praat oor Surrealisme, dink die meeste mense dalk aan die Spaanse kunstenaar Salvador Dalí met sy vreemde beelde wat enersyds uiters realisties voorkom, maar ook 'n blik bied op 'n baie vreemde wêreld wat ons op 'n reis na die verbeelding en die onbewuste neem.
Surrealisme is een van die bewegings wat ontstaan het met 'n doelbewuste plan toe die Franse digter André Breton die Surrealistiese manifes in 1924 geformuleer het.
Surrealisme ontstaan in die periode tussen die twee wêreldoorloë, in 'n tyd toe mense toenemend bewus geraak het van die mensdom se vermoë tot selfvernietiging. Hulle trek hierdie gedagte van selfvernietiging terug na wat hulle beskou as 'n hopelose verknogtheid aan die rede, aan logiese denke. Die rasionele ingesteldheid van die Weste kom natuurlik vanuit die Verligting, met Descartes se bekende uitspraak van Cogito ergo sum - ek dink, daarom is ek.
Die uitdaging was hoe om die onbewuste te laat manifesteer in visuele vorm, en só ontstaan 'n soeke na die poëtiese, die irrasionele en ook dikwels die humoristiese.
Hierteenoor soek die Surrealiste na 'n ander werklikheid wat die rede transendeer - die werklikheid van drome, die onbewuste en die verbeelding. Breton beskryf Surrealisme só in die manifes: "Dit is psigiese outomatisme in 'n suiwer staat, wat probeer om deur die geskrewe woord of enige ander manier die ware werking van ons gedagtes vas te vang. Die afwesigheid van beheer deur die rede is van die grootste belang hier."
Die Surrealiste erken ook veral die werk van Sigmund Freud in hul manier van doen. Freud se belangstelling in die onbewuste as die ware dryfkrag van menslike begeertes vuur hierdie kunstenaars en digters aan om maniere te soek om die onbewuste te laat manifesteer in die kunste.
Hulle skryfwerk ondersoek vreemde assosiasies en jukstaposisies - Breton praat byvoorbeeld van die samekoms van 'n sambreel en 'n naaimasjien op 'n dissekteertafel. As hierdie beeld nie vir jou ooglopend sin maak nie, is jy op die regte pad. Dit moet vreemd wees, want deur die vreemdheid van beelde wat onverwags saamkom, ontstaan betekenis wat uit die diepere plek van die onbewuste voortspruit.
Breton baseer nie sy klem op die onbewuste bloot op 'n belangstelling in die psigo-analise nie.
Hy was self - as iemand met 'n mediese agtergrond - betrokke by die Eerste Wêreldoorlog waar hy trauma en verskrikking beleef het. Hy het soldate behandel wat diep wonde - psigies en fisiek - gehad het. Dit het aan hom 'n renons gegee in oorlog en die ideologie van die tyd, maar hy het ook só insig verkry in die psigologiese kant van menswees.
Hierdie psigologiese blik op 'n dieper waarheid sou die stukrag agter die Surrealisme word. Die uitdaging was hoe om die onbewuste te laat manifesteer in visuele vorm, en só ontstaan 'n soeke na die poëtiese, die irrasionele en ook dikwels die humoristiese. Dit vind veral neerslag in drome, waar onbewuste begeertes en vrese manifesteer. Dit is kos vir die Surrealiste.
Kunstenaars soos René Magritte in België speel byvoorbeeld dan met die onwaarskynlike - hy gebruik 'n realistiese skildertegniek om dít te skilder wat nie moontlik is nie - sogenaamde raaiselskilderye. Dalí sou dieselfde doen in sy werk, waar hy veral inspeel op seksuele suggesties vanuit die onbewuste, wat hy in vreemde kombinasies van beeldspraak tot vergestalting bring.
Die Surrealiste glo in die belangrikheid van die "derde oog" - die onsienlike werklikheid in ons gedagtes en drome wat baie groter en meer betekenisvol is as die werklikheid soos ons dit empiries ervaar.
Surrealisme is die langslewende van al die modernistiese bewegings, met die eerste stuwings in 1924 en groot Surrealistiese uitstallings tot diep in die 20ste eeu. Dit is uitsonderlik in 'n tydgleuf waar baie bewegings soos Kubisme en Dada net 'n jaar of drie duur al was hulle uitwerking besonders.
Dis natuurlik juis die Dada-beweging wat tydens die Eerste Wêreldoorlog ontstaan het wat Breton geïnspireer het, en veral Dada-kunstenaars se soeke na maniere om die absurde tot uiting te bring. Die humor en vreemdheid van Dada word vasgevang in die frase wat dikwels gebruik word: dat Surrealisme die suksesvolle verlenging van Dada sou wees; 'n soort feniks wat verrys uit Dada se verbrande as.
Surrealisme het ook versprei na verskeie wêrelddele, veral na Latyns-Amerika, waar dit 'n invloed sou hê op kunstenaars soos Frida Kahlo. Kahlo se werk staan uit vir haar diep eerlikheid, maar ook vir die gebruik van ongewone kombinasies van elemente wat 'n blik gee op haar persoonlike ervarings - veral die swaarkry wat spruit uit haar fisieke lyding en ook die hartseer weens haar moeilike huwelik met die skilder Diego Rivera.
Gaan kyk weer bietjie na die Surrealiste - jy sal aanvoel hoe hulle werk en denkwyse steeds soveel van ons huidige kuns en fotografie raak.

- Dr. Combrink is 'n senior dosent in kunsgeskiedenis aan die Noordwes-Universiteit. Sy gesels Sondae tussen 13:05 en 14:00 in Esté Gross se program Wat's nuut? Dis klassiek! op PretoriaFM oor kuns.


















