Toe ’n YouTuber onlangs R500 maak uit straatbedel het dit gegons dat bedelaars meer geld maak as mense in laer-inkomstegroepe. Kuier het die strate ingevaar om uit te vind hoe staan sake.
Hy het gewonder hoeveel geld ’n mens regtig kan maak deur op straat te bedel sonder om noodwendig iets te verkoop. Toe vaar die plaaslike YouTuber Keith Dodgen self die strate in om dié storie te beproef. Binne net ’n paar uur kon hy R500 in die sak steek – wat hy darem wel later aan regte bedelaars uitgedeel het.
Keith se sosiale eksperiment strook glo met bestaande studies wat daarop dui dat sommige bedelaars tussen R300 tot R500 per dag kan verdien, en in sommige gevalle aansienlik meer.
Dít terwyl straatverkopers, wat heeldag werk, maar tussen R100 tot R150 per dag verdien – soms selfs minder ná vervoer- en voorraadkostes. Keith se eksperiment het gemengde reaksies ontlok en mense laat wonder hoe bedel werklik vergelyk teenoor tradisionele informele werk.
Sy video het egter ook onder kritiek deurgeloop van dié wat meen sy poging was hoogs ongeloofwaardig. Buiten ’n paar swart strepe oor sy gesig het hy maar min moeite gedoen om sy identiteit te verbloem – dié dat die meeste motoriste hom byna dadelik herken het.
Trouens, in die video beloon iemand hom met ‘n hele R100 en sê dan prontuit dat hy dit nie normaalweg sou gedoen het nie, en in dié geval bloot ‘n uitsondering maak.
Ons vaar die strate in . . .
Ryan May (35) leef al die afgelope 15 jaar op straat in die Bellville-area in die Kaap. Soggens vra hy aalmoese van motoriste, meestal by ’n besige robot in Durbanweg. “My familie het my lankal al weggegooi, want ek is aan dwelms verslaaf,” sê hy wanneer Kuier hom raakloop iewers langs die pad. Ja, hy gebruik heroïen, sê Ryan sonder blik of bloos. “Ek is nie trots daarop nie, maar dit baat nie ek lieg nie.” Hy stem in dat ons sy foto mag gebruik.

Op ’n goeie dag verdien hy R100 per dag tussen halfsewe soggens en agtuur saans. “Jy kan meer kry by die regte plekke waar dit besiger is. Maar ek maak ook geld uit recycling. Ek neem dit self depot toe en kry dan ’n geldjie daarvoor. Dít, saam met die geld wat ek kry by die robots, gee my R700 per week.”
Hy woon op straat, en as daar genoeg geld is, skuif hy oor na ’n plaaslike nag-skuiling. “Ek word soms ge-rob op straat. En, ja, natuurlik wil ek graag ‘n normale werk hê, maar sonder ‘n vaste adres is dit maar moeilik. Ek maak genoeg, maar het nog nooit op een dag R500 gemaak nie.”
Naby ’n groot winkelsentrum in Bellville se besige Voortrekkerstraat werk Amos John (59) as ’n car guard in die parkeerarea. Hy is van Burundi en werk al die afgelope twee jaar hier in Bellville en dit gaan maar broekskeur, sê hy.

“Ek is gelukkig as ek R500 maak vir die hele week, want die mense wil nie betaal nie, selfs al help jy hulle. My huur is R3 500 per maand en ek kan dit nie meer betaal nie. Ek het ’n vrou en vier kinders. Sy sukkel om werk te kry as ’n tiler, maar kry Sassa-geld. Ek is ’n gelowige man en my kerk help soms met my huur.”
Hy het voorheen as ’n sekuriteitswag gewerk, maar deesdae tel sy ouderdom teen hom. “Ek moet oral hoor ek is te oud. Ek kan ook goed verf en daarvoor kry ek R300 tot R500 per job. Ek het twee jaar laas ‘n verf-job gekry. Soms kry ek net R80 ’n dag en ander dae R150. Maar R500 op één dag? Dit gebeur nooit hier nie. As ek gelukkig is, kan ek R2 000 maak vir die hele maand. Soms R2 500.”
Nog ’n sekuriteitswag (61) by dieselfde sentrum wat anoniem wou bly, vertel hy was in die ’70’s ’n tronkbewaarder. Daar het hy R275 per maand verdien. “Ek moes dié werk los, want hulle wou my verplaas Witbank toe.”
Later het hy by die Spoorweë ingeval teen sowat R395 per maand, en die afgelope 20 jaar is hy ‘n sekuriteitswag wat sowat R6 000 ná aftrekkings verdien. “Ons word per maand betaal en gelukkig het ek nie ‘n vrou en kinders om na om te sien nie. Ek bly hier anderkant in ’n karavaan, want ‘n woonstel kan ek nie bekostig nie. Die meeste geld spandeer ek aan openbare vervoer en kos.”
Dis ’n uitputtende werk dié, sê hy, “want ‘n mens moet heeltyd konsentreer. Ek werk van ses tot ses – dis vyf skofte per week. Eintlik moet ek tussen R12 000 en R13 000 ná aftrekkings verdien. Maar nou ja, daar is nie werk nie en ‘n mens mag nie kla nie. Danksy die Here se wil survive ek nog elke maand.”
‘Dis g’n easy life nie’
Claressa van Wyk (55) werk die afgelope 21 jaar al drie dae per week by ’n Bellville-gesin, vertel sy. “Ek het twee skoolgaande kinders van 14 en 17. Soggens wag ek eers dat my jongste se vervoer hom optel by ons huis in Eersterivier voordat ek werk toe gaan.

“Ek werk so van nege tot vier en verdien R1 900 per week vir die drie dae. Ek kry ook R250 elke Maandag net vir vervoer. Dinsdae is my af-dae, en Donderdae werk ek in Kenridge teen R500 per dag. Op sommige Saterdae werk ek in Parow teen R450 per dag.”
Soms kry ek net R80 ’n dag en ander dae R150. Maar R500 op één dag? Dit gebeur nooit hier nie. As ek gelukkig is, kan ek R2 000 maak vir die hele maand.
— Amos John, karwag
Haar seunskind se maandelikse vervoer jaag haar R1 200 per maand uit die sak. “Gelukkig het ek ‘n government-huis. Ek het nou baie uitgawes met die matriekafskeid van my meisiekind, en my seun speel sokker. Ek het ’n streng budget. Ek spaar R300 elke week vir my seun se vervoer. Hul pa maak kaste en hy gee R2 100, as hy voltyds werk.
“Ek spaar gewoonlik maandeliks R1 000 van die geld wat ek op Donderdae verdien. Dit gaan vir WiFi, krag en kos. En met die ekstra gaan eet ek en die kinders soms uit by Tyger Valley mall. My kinders kry elke Junie en elke Desember klere. Dan gee ek vir elkeen R1500 en hulle kan koop net wat hulle wil.”
Dewald Hibbert (49) bedel al ses jaar in die Kaapse noordelike voorstede. Die meeste geld wat hy op een dag verdien het, was net onder R1 000, vertel hy breë-bors. “Dit was binne drie en ’n half uur. Maar dit was my verjaardag en dit het daai dag hard gereën. Mense het my jammer gekry. Ek het ook ‘n spesiale bordjie gemaak wat sê dis my verjaardag.”
Hier waar hy vandag staan, gaan dit nie so voor die wind nie. “Dis maar min dat dié robot ‘uitbetaal’,” laat hoor hy. “Dit hang af waar jy staan. Tygervallei of van die ander groot sentrums se robotte betaal beter.’’
Hy en sy vrou, Lou Wilson (43), staan gewoonlik saam by die robotte, sê Dewald. “Weet jy, ek was eintlik ‘n air brake-tegnikus voordat dinge skeefgeloop het. Ek het huise geverf en saam met my oorlede pa kaste ingebou. Ek was daai mens wat ander op straat ge-judge het. Ek het altyd gesê ek sal nooit daar staan waar daai sleg man staan nie – en kyk net waar staan ek vandag. Ek sukkel om weer by die bedryf in te kom. Mens kry nie meer so maklik werk nie. My target per dag is gewoonlik sowat R250.”

Lou het ’n 11-jarige wat by ’n familielid oorsee woon. Maar sy sorg steeds vir hom, vertel sy. “Ek was eers ‘n aanlyn-onnie vir kinders op Saterdae en ek het sponsors gehad, maar ek is ge-scam en nou het ek niks. Ek en Dewald maak saam so R500 tot R600 per week.”
Kry Dewald makliker ‘n sent vanweë sy velkleur? “Ja, beslis,” antwoord Lou soos blits. “Wanneer ek alleen hier staan, neem dit baie langer. Behalwe in die Kaapse middestad – daar kry ek weer makliker geld as hy.”
Lou verkoop deesdae ook penne teen R5 elk. “As mense sien jy verkoop darem ook iets, gee hulle makliker. Almal dink mos maar ons is net daggarokers en ‘druggies’. Maar as jy wys jy probeer iets doen om geld te verdien en jy staan nie net en bedel nie, help dit. ‘n Man het nou die dag vir my R20 gegee vir een pen.”
Ná vyf jaar se sober lewe, gebruik sy weer heroïen, erken Lou. “En ek gaan weer ophou, maar vir nou kan ek nie function as ek nie op dwelms is nie.”
Dewald se poison is mandrax en tik, maar hy het darem die heroïen gelos, sê hy. “Jy kan nie hier staan as jy nie op een of ander drug is nie. Dit vat jou emosies weg en dan voel jy niks, dan is dit makliker.’’ Maar hulle “rob nie die mense nie!” tjip Lou in, en albei staan reg vir ‘n foto.
Hulle sal graag albei weer wil werk, hoor ons. “Dis nie ‘n lewe dié nie. Skateboarding is my eintlike passie. Ek sit nou elke maand geld weg om R6 500 bymekaar te skraap vir ‘n paar skaats-tekkies en twee skaatsborde, en dan wil ek jongmense leer. Hulle is ons land se toekoms.
“Kyk, ek is eerlik: Dis geen easy life dié nie, en ek sal dit nie vir my grootste vyand toewens nie. Regtigwaar.”





















