Eugene Gunning skryf oor twee interessante sportmanne van die Suid-Kaap wat deur hul vasbyt en uithou ander mense inspireer.
Om die Comrades-marathon of die Bergrivier-kanomarathon te voltooi, vereis méér as fiksheid. Dit vra ook vir deurdruk.
Daarvan kan jy Jannie Malherbe (85) en Louis Massyn (74) van George niks vertel nie. Massyn het op 8 Junie die eerste mens geword wat die Comrades 50 keer voltooi het. Hy het die moordende wedloop tussen Pietermaritzburg en Durban oor 89,98 km in 11 uur, 53 minute en 14 sekondes voltooi.
En op 2 Julie meld Malherbe in sy kano in die Paarl aan om die Bergrivier vir 'n 52ste keer aan te durf. Die kanomarathon vind oor sowat 240 km plaas en die vierdag-geleentheid eindig op 5 Julie by Velddrif.
Wat Malherbe en Massyn wys, is dat ouderdom vir sommige mense net 'n blote getal is.
Oor Massyn se prestasie is die laaste tyd baie geskryf. Om Malherbe vas te trek vir 'n gesprek oor die Bergrivier wat voorlê, wys reeds hoe aktief hy leef. Die onderhoud moet telefonies geskied, want hy is nie in George nie, maar in Graaff-Reinet, waar hy aan 'n bouprojek werk, laat weet Malherbe, wat saam met familie by 'n konstruksiemaatskappy betrokke is.
Tussendeur berei hy voor vir die Bergrivier, want hy wéét wat wag. Die kanomarathon is immers nie vir hom vreemd nie en sy naam is al sinoniem daarmee. Ter voorbereiding oefen hy die laaste tyd sewe uur per week op die water.
Malherbe het reeds in 1962 aan sy eerste Bergrivier-kanomarathon deelgeneem het. Oor die jare het hy dit boonop drie keer gewen. Hy is ook 'n Springbok-kanovaarder en kan met verskeie titels spog. In 2017 was hy onder meer die wêreldkampioen in sy ouderdomsgroep. Hy is ook die oudste persoon wat al die Bergrivier voltooi het.

Hy sê hy sien uit na vanjaar se geleentheid.
"Ek neem deel omdat ek dit geniet. Dit gaan beslis nie oor rekords nie."
Op die vraag hoe hy dit regkry om nog op sy ouderdom daaraan deel te neem en of daar dalk iets in George se water is, antwoord hy: "Ek drink elke aand 'n ligte glas vol rooiwyn. Daar is bewys dat dit gesondheidsvoordele het." Hy benadruk egter: "Gebruik dit matig."
En ja, elke aand voor hy gaan slaap, drink hy ook 'n glas koue water.
Is dit sy laaste Bergrivier? Of hoe lank beplan hy nog om deel te neem?
Malherbe sê solank sy gesondheid hou, sal hy aktief bly en sy plan is om volgende jaar weer sy kano vir die Bergrivier nader te sleep.
"Ek dink nooit aan ophou nie."
En sy raad vir mense wat dalk al begin dink aan aftrede of reeds afgetree het? Bly solank moontlik fisiek en emosioneel aktief. Dit het voordele. As jy gaan stilsit, gaan jy dood. "Lewe solank jy lewendig is en moenie 'n potplantjie word nie!"
• Gunning is 'n afgetrede joernalis van George wat in sy loopbaan vir verskeie Media24-publikasies verslag gedoen het.




















