Die woorde wat jy lees, beteken iets, maar dit kry ook 'n bykomende betekenis omdat die woorde met jou leefwêreld verweef word, skryf Cas Wepener.

Met die eerste Jakobitiese opstand het James Edward Stewart probeer om die troon van Engeland, Skotland en Ierland terug te wen vir die Skotse Stuarts.
James Radclyffe, die derde graaf van Derwentwater, het aan die opstand deelgeneem. Soos heelparty ander rebelle, is Radclyffe gevange geneem, skuldig bevind aan hoogverraad, en in die Londense Tower aangehou.
Op 24 Februarie 1716 is hy op die ouderdom van 26 tereg gestel deur onthoofding. Nadat sy lyk van die skavot verwyder is, is sy kop en lyf weer aan mekaar vasgewerk en aan sy weduwee, Anna Maria, oorhandig om te begrawe.
Voor sy teregstelling is Anna Maria vir 'n tyd toegelaat om by James in die toring te bly. In 1934 het die Museum van Londen 'n laken aangekoop vir hul versameling. Op hierdie laken is die volgende woorde geborduur: "The sheet OFF MY dear Lord's Bed in the wretched Tower of London February 1716 x Ann C of Darwent=Waters."
Volgens hierdie woorde het James dus voor sy dood onder hierdie laken geslaap. En bes moontlik het Anna Maria vir 'n tyd saam met hom onder die einste laken in die Londense Tower geslaap. Die woorde word geraam deur blomme, blare en 'n groot, hartvormige krans.
Wat uitsonderlik is omtrent die borduurwerk, is dat dit met die hare van mense gedoen is. Daar is eers aangeneem dat Anna Maria dit net met haar eie hare gedoen het, maar nadere ondersoek het getoon dat nie een nie, maar twee mense se hare gebruik is in die borduurwerk.
Geweld en liefde
Die feit dat James se lyk aan Anna Maria oorhandig is om te begraaf, maak dit redelik waarskynlik dat sy haar man se hare afgesny en saam met haar eie in die borduurwerk gebruik het. Volgens die kurator van die museum moes dit vir hierdie jong treurende weduwee jare geneem het om hierdie veeleisende en delikate werk te voltooi.
As 'n doodgewone teks bestaan die borduurwerk op die laken uit min woorde, maar is dit veelseggend. Die patroon, in kombinasie met die woorde, die item waarop dit geborduur is en die historiese en tragiese omstandighede waarbinne dit gebruik is, ook die jare van toewyding waarmee Anna Maria hieraan moes gewerk het, gee aan hierdie item 'n diggeweefde en gelaagde tekstuur, of eerder meerdere teksture.
Daar is die historiese feite waarop hierdie teks berus, maar daar is uiteraard ook soveel emosie.
As historiese teks bevat hierdie geborduurde laken 'n tekstuur van magsbeheptheid en geweld; ook 'n tekstuur van politieke komplotte wat 'n duur prys dra. Maar, soos dit deur die eeue en vandag nog die geval is, sit woede en afguns en ander negatiewe emosies ingeweef in die historiese feite. Voorop in hierdie besondere laken as teks is egter die positiewe emosies van Anna Maria se liefde.
'n Deel van die tekstuur van liefde van dié laken is 'n tekstuur van stilte van een wat weg is en een wat bly, van herinneringe en verlange, en ongetwyfeld ook 'n tekstuur van trane.
Woorde en patrone
Alle tekste het teksture. Daar is teksture wat feite weergee. Maar wat in sommige tekste nie so opvallend is soos in Anna Maria se laken nie, is dat emosie in die meeste tekste ingeweef sit.
En te dikwels word die feite ver bo die emosies verkies en bly die volle betekenis van 'n teks dus buite bereik.
Volgens die Nuwe-Testamentikus en tekskenner Vernon K. Robbins is tekste dig geweef met verskeie lae. Neem byvoorbeeld enige Bybelteks.
Daar is woorde, patrone en stemme uit antieke tye. Hulle verweef met dinge en gebeure buite die teks. En wanneer ek die teks lees, word daardie teks met my eie lewe en leefwêreld verweef wat sodoende eintlik 'n nuwe teks skep.
Ek as leser is dus ook 'n soort teks. Soos vlees woord geword het in die geskrewe (of geborduurde) teks, word woord vlees in my wanneer ek dit lees. En net soos een van die teksture van die tekste wat ek lees die tekstuur van emosie is, net so het ek in enige en elke oomblik wat ek lees ook 'n besondere tekstuur van emosie - 'n komplekse een.
Wanneer Paulus die brief aan die Galasiërs skryf, is die ou woedend. Maar ek lees dieselfde brief dalk vandag terwyl ek self geen woede beleef nie en eerder liefde en geluk.
En dis kompleks, want ons beleef gewoonlik emosies nie so geïsoleerd en een op 'n slag nie.
Carroll Saussy skryf in haar boek oor die emosie van woede dat emosies meestal nie een-een na 'n mens kom nie, maar eerder soos 'n tros druiwe.
Sagter oë
Hoe dit ook al sy, ek is as leser dus ook 'n soort teks.
En die tekstuur van die mens as lesende teks van tekste is dinamies. Soms het ek 'n sagte tekstuur en soms is my emosionele tekstuur van staal - wat beïnvloed hóé ek lees en interpreteer, net soos die skrywer of borduurder van die teks wat ek lees ook deur haar emosies beïnvloed is.
So lees ek die teks, maar die teks lees ook vir my.
Ek is 'n teks. Jy is 'n teks. Alles rondom ons is potensieel tekste. En ons lees voortdurend mekaar en die wêreld om ons.
Wat tog soms ook nodig is, is om te besef dat elke teks en elke mens 'n dig geweefde geheel is, en dat een van die onderwaardeerde teksture van enige teks, die emosionele tekstuur is.
Om emosies wat ingeweef is in die tekste van die lewe ernstig te beskou, kan beteken dat ek dieper lees, beter verstaan waarom daar op sekere maniere besluite geneem en opgetree is, en soms selfs nadat ek klaar gelees het en weer opkyk, met sagter oë na alles en almal rondom my kyk.
Hierdie koerant het ook verskeie teksture. Artikels in By is anders as dié op die bladsy met berigte oor misdaad. Misdaadverslagdoening het merendeels 'n kil tekstuur waarvan die borduurgare slegs feite is. Feite soos die aard van die misdaad en vonnis, byvoorbeeld hoogverraad en teregstelling.
Selde lees ek dieper om te besef hoedat 'n teks met misdaadverslagdoening in ons mooi land, soos Anna Maria Radclyffe se laken, ook 'n tekstuur van trane het.

- Wepener is 'n professor in die teologie aan die Universiteit Stellenbosch.



















