Stemme

Cas Wepener: Is oop gesprek ’n romantiese ideaal?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Prof. Cas Wepener
Prof. Cas Wepener (Foto: Deaan Vivier)

Wanneer grens vryheid van spraak aan vryheid om te haat? Cas Wepener besin oor die oop gesprek na aanleiding van N.P. van Wyk Louw se opstel oor dié tema in die 1950’s.

In ’n naoorlogse Europa skryf N.P. van Wyk Louw sy bekende opstel “Die Oop Gesprek”. Daarin verlang hy na ’n sekere soort gesprek wat hy in Suid-Afrika geken het.

Hy beskryf dit onder meer as die tipe gesprek waarin mense gewillig was “om hoflik en in vriendskap te luister na die teenstander, sy standpunt te probeer begryp” en dan op sy veronderstellings in te gaan.

Louw beantwoord in daardie opstel sy eie vraag “En waaroor is daar dan so gepraat?” soos volg: “... alle dinge wat in die hemele is, of op die aarde, of in die waters onder die aarde: politiek, wysbegeerte, kuns, literatuur; teologie dikwels...”

’n Paar belewenisse het my genoop om Louw se opstel oor die oop gesprek weer te lees. Dit het my laat wonder oor die oop gesprek tóé en die oop gesprek nóú.

Is ons nou slegter daaraan toe? Of dalk juis nie? Is ons gesprekke nie oop genoeg nie? Of dalk eerder té oop? Kan of moet daar grense wees, of sal dit sensuur behels? En wanneer grens vryheid van spraak aan vryheid om te haat? Is alle sogenaamde oop gesprekke altyd bevrydende ruimtes? Of is wat oop is vir een dalk gewelddadig vir ’n ander?

Elisabeth Eybers
Elisabeth Eybers (Foto: Argief)

Kortom, en hier kan die historici my help – was Hettie Smit en Elisabeth Eybers deel van die oop gesprekke waarna Louw terugverlang? Om nie eens te praat van die Luthuli’s en Mbeki’s nie? Of was dit ’n gesprek vir my en my tipe wat in die Royal Hotel sit?

’n Foto van hoofman Albert Luthuli by ’n gedenklesing aan hom in Durban verlede jaar. Hy was die leier van die ANC en het die Nobelprys vir Vrede in 1960 gewen.
’n Foto van hoofman Albert Luthuli by ’n gedenklesing aan hom in Durban verlede jaar. Hy was die leier van die ANC en het die Nobelprys vir Vrede in 1960 gewen. (Foto: Gallo Images)

Soos ’n kadawer op ’n staaltafel

Onlangs woon ek ’n groot konferensie in Heidelberg in Duitsland by. Buite die universiteitsgebou op die stadsplein wapper die Israeliese vlag saam met die Duitse vlag.

Binne-in die gebou probeer konferensiegangers ’n paar keer ’n vraag stel wat verband hou met Israel en Palestina. Soms word hulle heel galant deur ’n moderator, wanneer hy besef in watter rigting die vraag neig, verhoed om hul vraag te kan stel. Ander kere word die vraag aangehoor, maar daarna daar gelaat.

Uiteraard gaan dit hier oor Duitsland se rol in die Joodse menseslagting en die (on)moontlikheid dus van kritiek. Die verlede kan dus nie los gedink word van die hede nie.

Die konteks van ’n konferensie in Duitsland en gesprekke oor Jode se betrokkenheid in ’n menseslagting vandag het ongetwyfeld ’n impak op die oop gesprek en “alle dinge wat in die hemele is, of op die aarde, of in die waters onder die aarde” is glad nie altyd en oral so voor die hand liggend nie. Of is dit?

Die Duitse en Israeliese vlae hang langs mekaar ten tyde van Benjamin Netanyahu, premier van Israel, se ampsbesoek aan Duitsland in Maart 2023. Regs is Olaf Scholz, destyds kanselier van Duitsland.
Die Duitse en Israeliese vlae hang langs mekaar ten tyde van Benjamin Netanyahu, premier van Israel, se ampsbesoek aan Duitsland in Maart 2023. Regs is Olaf Scholz, destyds kanselier van Duitsland. (Foto: Getty Images)

Nog meer onlangs woon ek ’n konferensie in Stellenbosch by. ’n Akademikus lewer ’n referaat in die vorm van ’n vurige pleidooi wat oor die oorlog tussen Israel en Palestina handel. Mense staan vir die applous. Die vraetyd bestaan veral uit bevestigende instemmings.

’n Konferensieganger naby aan my fluister vir ’n kollega dat hy iets wil vra oor konsepte wat gebruik is en oor fyner besonderhede van die argument, maar hy doen dit eerder nie. Almal wat hierdie soort vrae ter opheldering en kritiese vrae het, se hande bly op hul skote. Beteken dit die einde van die oop gesprek, of sou die oop gesprek hier eintlik onvanpas gewees het?

Kan ek, selfs in ’n keiharde akademiese milieu, ’n tragedie wat nou uitspeel soos ’n kadawer op ’n staaltafel sit en die skalpels uithaal?

Kan iemand neutraal wees?

Onlangs woon ek ’n debatkompetisie van leerlinge en studente by die Universiteit van Kaapstad by. Dit is debat, dit is nie redenaars nie.

In redenaarskompetisies het jy ’n tema en jy hardloop met hom. In debat is daar twee spanne en een saak wat gedebatteer word. Jy kry ’n mosie, byvoorbeeld “Onteiening sonder vergoeding moet gewettig word” of “Onteiening sonder vergoeding moet nie gewettig word nie”. Maak nie saak watter hand vir jou gedeel word nie, jy moet daardie saak stel.

Die debatte is emosioneel en die gemoedere loop hoog. En ná die debat drink opponente saam koffie as vriende.

N.P. van Wyk Louw
N.P. van Wyk Louw (Skets: Frans Esterhuyse)

Volgens Louw word niemand in ’n werklike oop gesprek gekrenk nie, want hulle het ’n saak en ’n mening verdedig, nie hulself nie.

En tog, tog gesels ek met die deelnemers en sê hulle vir my dat die jong beoordelaars bykans nooit ’n span wat ’n baie konserwatiewe posisie moet verdedig, laat wen nie.

Wat die jong beoordelaars (on)bewustelik doen, doen almal wanneer die onderwerp Louw se “politiek, wysbegeerte, kuns, literatuur; teologie” behels. ’n Duitser staan nie neutraal en objektief in ’n gesprek waarin daar oor Jode gepraat word nie; ’n Moslem staan ook nie neutraal op ’n afstand wanneer daar oor Gasa gepraat word nie; ’n eerstegenerasie- swart student staan net so min neutraal in ’n gesprek oor grondonteiening as ’n wit boer in Limpopo.

Betogers met Palestynse vlae en ’n plakkaat waarin Benjamin Netanyahu as “Die Koning van Apartheid” uitgebeeld word, maak in 2023 in Berlyn beswaar teen die Israeliese premier se besoek aan Duitsland.
Betogers met Palestynse vlae en ’n plakkaat waarin Benjamin Netanyahu as “Die Koning van Apartheid” uitgebeeld word, maak in 2023 in Berlyn beswaar teen die Israeliese premier se besoek aan Duitsland. (Foto: Getty Images)

Gesprek of geweld

So hoe dan gemaak met “alles in die hemele en op die aarde en in die waters onder die aarde” wat deur N.P. van Wyk Louw rein verklaar is vir die oop gesprek? Is daar nou grense sedert Louw sy opstel geskryf het?

Nie in Heidelberg, Stellenbosch of Kaapstad was Louw se weergawe van die oop gesprek werklik ’n opsie nie en kon ek my nie in Louw se taal “ingraaf onder ’n ander se fondamente” en dan ook “my eie grondslag met die koevoet toets” nie. Ja, ek kon seker en ander kon seker ook, maar is dit nie net waar wanneer daar nie werklik iets diep eksistensieel vir jou op die spel is nie?

Miskien is daardie ideale en bykans romantiese verstaan van ’n oop gesprek ’n baie spesifieke persoon en groep persone se oop gesprek en is dit dalk ’n oop gesprek wat vir ander mense aan geweld grens.

Gesprek of geweld?
Gesprek of geweld? (Illustrasie: Getty Images)

Miskien is “opheldering” en kliniese kritiese akademiese vrae en refleksies oor “volksmoord” geen neutrale deelname in ’n oop gesprek nie. Wanneer word my vryheid om in ’n oop gesprek oor alles te kan praat eintlik ’n vorm van geweldpleging teenoor iemand anders?

Dalk moet die “oop gesprek”, soos letterlik alles, hermeneuties benader word; dit is met onderskeiding gegewe elke onderwerp en elke konteks. En dit sal beteken dat die presiese aard van die ware “oop gesprek” nooit vasgepen kan word nie, maar wel iewers gevind kan word op ’n pendulum wat voortdurend swaai tussen “nie oop genoeg nie” en “te oop”.

Louw sluit sy opstel af deur te argumenteer dit is goed dat sekerheid vir sommige mense nooit in groot blokke gegee word nie, ook dat een persoon alleen nooit die volle waarheid in pag het nie. Wat Louw oor die voorlopigheid van sekerheid en die waarheid sê, geld dalk ook vir “Die Oop Gesprek” as sodanig.

• Prof. Wepener is verbonde aan die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Sy mening weerspieël nie noodwendig Netwerk24 s’n nie.

3881

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM