Indien jy jonger as 35 is, is jy meer geneig om samesweringsteorieë te steun as die ouer garde. Jean-Nicolas Bordeleau het die redes ondersoek.
Samesweringsteorieë is 'n algemene verskynsel in vandag se hiper-gekonnekteerde en gepolariseerde wêreld. Gebeurtenisse soos Brexit, die Amerikaanse presidentsverkiesings van 2016 en 2020, en die Covid-19-pandemie is kragtige herinneringe aan hoe maklik hierdie narratiewe in die openbare diskoers kan vatplek kry.
Dit het beduidende gevolge vir die samelewing aangesien 'n aanhang van samesweringsteorieë belangrike demokratiese norme kan ondermyn en burgers se vertroue in kritieke instellings kan verswak. Soos ons gesien het in die opstand op 6 Januarie 2021 by die Amerikaanse Kongresgebou, kan dit ook lei tot politieke geweld.

Maar wie glo hierdie komplotte?
My nuwe studie saam met Daniel Stockemer van die Universiteit van Ottawa, gepubliseer in Political Psychology, gee 'n duidelike en dalk verrassende antwoord. Ons navorsing toon ouderdom is een van die belangrikste aanwysers van 'n geloof in 'n sameswering, maar die redes hiervoor is nie voor die hand liggend nie.
Mense jonger as 35 is deurlopend meer geneig om samesweringsidees te steun.
Kragtige voorspeller
Hierdie slotsom is gegrond op soliede getuienis. Heel eerste het ons 'n meta-analise gedoen, 'n "studie van studies", wat die resultate van 191 eweknie- geëvalueerde artikels byeengebring het wat tussen 2014 en 2024 gepubliseer is.
Hierdie massiewe datastel, wat meer as 374 000 deelnemers ingesluit het, het gewys daar is 'n robuuste assosiasie tussen 'n jong ouderdom en 'n geloof in sameswering.
Om dit te bevestig, het ons toe ons eie multinasionale opname gedoen onder 6 000 mense in ses uiteenlopende lande: Australië, Brasilië, Kanada, Duitsland, Amerika en Suid-Afrika.
Die resultate was dieselfde. Om die waarheid te sê, ouderdom was 'n meer kragtige voorspeller van 'n aanhang van samesweringsteorieë as enige ander demografiese faktor wat ons gemeet het, insluitende gender, inkomste of opvoedingsvlak.

Toe ons eers gestaaf het dat samesweringsgelowe meer onder jongmense voorkom, wou ons verstaan hóékom. Ons projek het verskeie potensiële faktore getoets en drie sleuteloorsake gevind vir hoekom jonger generasies meer vatbaar is vir samesweringsteorieë.
Dis die redes
• Politieke vervreemding: Een van die kragtigste dryfvere wat ons geïdentifiseer het, is 'n diepe politieke onvergenoegdheid onder jongmense. Die meerderheid voel vervreem van politieke stelsels wat deur politici gelei word wat twee of drie generasies ouer is as hulle.
Die feit dat hulle onderverteenwoordig word, kan lei tot frustrasie en die gevoel dat die demokrasie nie vir hulle werk nie. In hierdie konteks verskaf samesweringsteorieë 'n eenvoudige, dwingende rede vir hierdie ontkoppeling: die stelsel misluk nie net nie. Dit word skynbaar in die geheim deur misdadigers beheer en gemanipuleer.
• Aktivisme: Die manier waarop jongmense kies om aan die politiek deel te neem, speel ook 'n beduidende rol. Al is hulle minder geneig om tradisionele dinge te doen soos om te stem, is hulle hoogs betrokke by meer onkonvensionele prosesse van deelname - soos betogings, boikotte en aanlyn veldtogte.
Hierdie aktivistiese omgewings (veral aanlyn) kan vrugbare grond word vir samesweringsteorieë om te ontkiem en te versprei. Dit maak dikwels staat op soortgelyke "ons teen hulle"-narratiewe wat 'n "moreel geregverdigde" in-groep opstel teenoor 'n "korrupte" establishment.
• Te min selfrespek: Ten slotte het ons navorsing 'n kritieke sielkundige verband met selfrespek bevestig. Vir diegene wat minder geneig is om in hulself te glo, kan 'n aanhang van samesweringsteorieë - om eksterne, verborge magte te blameer vir hul probleme - 'n manier wees om hul gevoel van magteloosheid te fnuik.
Dit geld veral vir jongmense. Navorsing wys al lank eiewaarde is geneig om laer te wees onder jongmense voordat dit bestendig toeneem namate jy ouer word.
Wat kan gedoen word?
Dis noodsaaklik om hierdie kernoorsake te begryp, want dit wys vir ons om valse bewerings te ontmasker, is nie 'n voldoende oplossing nie.
Om werklik die opkoms van samesweringsteorieë te fnuik en die gevolge daarvan te beperk, moet ons kyk na die onderliggende kwessies wat hierdie verhale in die eerste plek so aantreklik maak. Gegewe die rol wat politieke vervreemding speel, is dit van kritieke belang dat ons demokrasieë meer verteenwoordigend word.

Dit word die beste geïllustreer deur die onlangse verkiesing van Charlotte Walker, 'n senator van die Australiese Arbeidersparty, wat skaars 21 jaar oud is.
Deur aktief meer jong mense vir ons politieke instellings te werf, kan ons vir hulle meer vertroue gee dat die stelsel wél vir hulle kan werk. Op dié manier kan ons die versoeking van teorieë verminder waarin aangevoer word hierdie stelsels is hopeloos korrup.
Inklusiewe demokrasie
Dit beteken nie die hartstog van aktivistiese jongmense moet ontmoedig word nie. Ons moet jongmense eerder bemagtig met die gereedskap om deur vandag se komplekse informasie-landskap te stuur.
Die bevordering van robuuste media en digitale geletterdheidsopvoeding kan individue help om inligting krities te evalueer in alle kringe, ook ruimtes vir aanlyn aktivisme.
Die verbintenis met eiewaarde dui ook op 'n breër verantwoordelikheid van die samelewing. Deur in die psigiese gesondheid en welsyn van jongmense te belê, kan ons hul sielkundige veerkragtigheid en werksaamheid 'n hupstoot gee sodat hulle minder vatbaar is vir die simplistiese blameer-speletjie wat samesweringsteorieë bied.

As ons uiteindelik 'n samelewing wil bou wat misinformasie teëwerk, is die punt nie om fout te vind by 'n spesifieke generasie nie. Ons moet 'n sterker, meer inklusiewe demokrasie skep waar alle burgers, veral jongmense, voel hulle is veilig en hulle word verteenwoordig en bemagtig.
• Bordeleau is 'n navorsingsgenoot by die Jeff Bleich-Sentrum vir Demokrasie en Ontwrigtende Tegnologieë by Flinders-Universiteit in Australië. Hierdie artikel het eerste op The Conversation verskyn.




















